Die countrysangeres Chereé Strydom kook nie net graag in haar Huisgenoot-voorskoot nie; dié tydskrif is sinoniem met haar kinderjare en vandag sal jy dit ook haar hele huis vol sien lê.

[caption id="attachment_116065" align="alignnone" width="600"]Chereé Strydom in haar Huisgenoot-voorskoot. Twitterfoto: @chereestrydom Chereé Strydom in haar Huisgenoot-voorskoot. Twitterfoto: @chereestrydom[/caption]

“My ma het dit gekoop vandat ek my verstand gekry het. As jy nou by haar huis instap, sal jy die nuutste Huisgenoot op die koffietafel sien lê en in die hoek sal daar ’n hele hoop lê. Dit het nou maar so half oorgespoel na ons en hier lê altyd ’n klomp Huisgenote rond.”

Lees ook: Vrou swanger met vyfling eet 6 000 kalorieë per dag – en VERLOOR gewig!

Chereé (36) lees nie net graag Huisgenoot en kook in haar Huisgenoot-voorskoot nie; sy spog deesdae ook met ’n splinternuwe voorkoms, want einde verlede jaar het sy daarin geslaag om 23 kg af te skud. Sy was deel van die tydskrif Finesse se Nuwe Jy-veldtog en het binne 16 weke 20 kg verloor.

“Ek moes ’n totale leefstylverandering maak,” vertel Chereé. “My mikpunt was om 68 kg te weeg. Dit was hoeveel ek geweeg het toe ek die dag trou. Toe word ek swanger twee weke ná ons troue. Ek het ’n miskraam gehad en daarna was ek weer swanger. Drie of vier jaar lank was ek groot, en ek dink ek het die meisies as ’n verskoning gebruik om so te bly.

Lees ook: Hoe ’n jong ma wat ‘te vet was om te loop’ 45 kg afgeskud het

“Ek was moedeloos.”

Deel van die plan wat sy gevolg het, was om die CSN-produk te gebruik waarvan sy nou ook ’n ambassadeur is. Die produk is in ’n sop- of tablette-vorm en daarmee saam moet jy ’n natuurlike eetprogram sonder suiker en koolhidrate volg.

’n Voorbeeld daarvan is eiers en tamatie soggens en proteïene en groente smiddae en saans.

Chereé sê dis wonderlik om weer so goed te voel. “Dit is onbeskryflik. Teen die tyd dat ek 10 kg verloor het, het dit klaar weer begin vol asof ek myself terugkry. Diep binne my was ek glad nie gelukkig nie. Nou het ek my selfvertroue terug. Ek beweeg makliker op die verhoog rond en ek wonder nie meer wat mense van my dink nie.”

Lees ook: So het SA man 151 kg afgeskud

Haar en haar man, Wynand, saam met wie sy gereeld optree, se huweliksgeluk was nooit gegrond op hoeveel hulle weeg nie, sê Chereé. Sy het immers vir Wynand ontmoet toe hy 20 kg swaarder was, maar dit is inderdaad lekker om ook vir hom mooi maer te wees.

“Ek het nou die dag weer voor hom gestaan in my bikini en toe dink ek hoe ongelooflik dit is om nie skaam te wees nie.”

– Marelize Potgieter