Dankie, maar nee dankie. Dit is die kruks van ’n brief wat Annie Malan, aktrise en formidabele sakevrou, gestuur het in reaksie op die aanbod om te speel in die opvolgseisoen van die gewilde Afrikaanse dramareeks Swartwater, wat op SABC2 uitgesaai word.

En Hlaudi Motsoeneng sal moet pa staan vir Annie se besluit.

Annie het in die eerste seisoen die rol van die huisvrou Annelien Steyn vertolk, ’n rol waarvoor sy aangewys is as beste aktrise in ’n dramareeks of enkeldrama.

Die eerste seisoen het in Februarie 2014 op SABC2 begin wys. Ander bekendes, soos Jana Strydom, Dirk Stolz en Rika Sennett, was ook in die eerste seisoen te sien.

Toe Annie vir die opvolgseisoen genader word, het sy in ’n brief verduidelik hoekom sy nie in die tweede seisoen sal speel nie.

“Baie dankie vir die eerste dokumente oor die tweede seisoen van Swartwater. Ons het lank gewonder oor of dit gaan gebeur en wanneer,” skryf sy. Annie skryf sy beskou die aanbod om weer die rol van Annelien te vertolk as “’n geweldige eer” en sy is “regtig baie dankbaar vir die aanbod”.

Annie sê telefonies aan Huisgenoot wanneer sy met iemand in ’n vennootskap tree, gee sy alles.

“My kliënte is groot mense. Nou moet ek my vereenselwig met wat in die SAUK aangaan. My hart breek vir die mense by die SAUK.” Maar sy wat Annie is, kan nie “van sesuur soggens tot sesuur saans” op ’n stel sit terwyl sy weet wat Hlaudi met die SAUK aanvang nie.

Sy skryf in die brief die eerste seisoen van Swartwater en die prys daarna was sekerlik een van die hoogtepunte van haar lewe en sal haar altyd bybly.

En dan: “Ongelukkig sien ek nie my weg oop om die aanbod te aanvaar nie.”

Annie skryf die optrede van die uitvoerende hoof van die SAUK, Hlaudi Motsoeneng, die afgelope maande is “nie alleen ’n skande vir die media, die joernalistiek en die kunste nie; dis ’n geweldige klad op die algemene demokrasie van ons pragtige land”.

“Die appèlhof se bevestiging dat hy nie ’n geskikte persoon is vir die pos nie, staan vas en is verdere bewys dat die huidige bestuur onaanvaarbaar is.”

Annie skryf sy arrogante, minagtende optrede daarna is uiters skokkend.

“Ewe erg is die SAUK-raad se heraanstelling van hom in ‘n senior pos. Dit is op sigself ook minagting van ons howe en dit het tyd geword dat die privaat sektor in opstand kom oor hierdie soort optrede waar niemand bereid is om verantwoordelikheid vir hul dade te aanvaar nie.”

“Soos duisende ander,” skryf Annie, is sy nie bereid om “hoegenaamd verder” met die SAUK vereenselwig te word nie – tot Hlaudi en die huidige raad almal afgedank is en die SAUK weer werklik die openbare uitsaaier word nie.

“Ek voel, soos baie adverteerders en ander, dat ons liewer bereid is om die finansiële voordeel prys te gee en ons integriteit te behou, as om die korrupte situasie aan te hou voed met ons bydraes.”

Ter afsluiting skryf sy sy hoop haar optrede word verstaan en dat “die klein bietjie protes van ’n onbelangrike enkeling tog iewers weerklank sal vind”.

Sy wens die Quizzical Pictures-span, die produksiemaatskappy, alles van die beste toe.