Die voormalige 7de Laan-aktrise Diaan Lawrenson en haar man, die akteur Jody Abrahams, se motor is die naweek in Johannesburg gesteel. Jody se metaalblou BMW 325i Cabriolet is Saterdagaand in Parkhurst gebuit.

Diaan het die nuus gisteroggend op die sosiale netwerk Facebook gedeel. “Die motor is al 14 jaar deel van ons lewe, soos ’n familielid,” het sy daarby geskryf. “Dis ’n klassieke kar en ons is baie lief daarvoor. As jy dit sien, stuur asseblief vir my ’n boodskap,” het sy laat hoor.

Haar vriendin, die Sink-aktrise Anel Alexander, het met skok op Facebook op die nuus reageer. “Neeee, daai kar was sinoniem met julle!” het Anel geskryf.

Jody het die motor as vermis aangemeld, maar die polisie is glo nie hoopvol dat hulle die kar gaan kry nie omdat dié soort motors graag onder motordiewe deurloop. Tog bly die paartjie hoopvol dat hulle hul geliefde kar gaan terugkry.

Jody het by navraag gesê hulle bied ’n beloning van R20 000 aan vir enigeen wat hulle kan help om die motor terug te kry.

Maar dis ook nie die eerste keer dat die paartjie deurloop onder misdaad nie. Diaan het al onder twee huisinbrake in die Moederstad deurgeloop sedert sy en haar kinders, Olivia Rose (6) en Thomas (3), vier maande gelede Kaapstad toe verhuis het.

Hulle gaan tuis by ’n vriendin in Mowbray tot Jody volgende maand by hulle aansluit. Hy is nog in Johannesburg waar hy verfilm aan die televisiereeks Hard Copy.

In 2014 is daar ook by hul huis in Blairgowrie in Johannesburg ingebreek.