Op die silwerdoek was hy in Ballade vir ’n Enkeling die tragiese held. Op die kassie is hy onder andere bekend as die bitter, beterweterige en ontnugterde Tom Niemandt in die kykNET-reeks Die Boekklub.

Maar in die regte lewe is Armand Aucamp ’n gawe, plat-op-die-aarde ou wat sy 30ste verjaardag uit die kollig saam met vriende en familie deurbring.

“Ek voel nie eintlik anders noudat ek die 30's betree nie,” vertel dié Kapenaar aan Huisgenoot, “seker omdat ek ’n ruk lank al gemaklik voel in my eie vel.” Toe hy vanoggend sy oë oopmaak, het sy woonstelmaat met ’n sonderlinge "verjaardagkoek” ingestap, een wat enige banter soos hy se hart sal verbly.

A photo posted by Armand Aucamp (@armandaucamp) on

“Wat nie doodmaak nie, maak vet,” skryf die akteur op sy blog.

“Banting: Die nuwe vloekwoord. Die nuutste neiging dat alles wat vet is, goed is. Die revolusie wat die land behoorlik aan die brand het (want jy wéét as Woolies ingekoop het, is dit ernstig). En die (on)heilige leier wat vet op die vuur gooi en aan die hoof van hierdie bottervretende, roomdrinkende, kaiingkouende ‘monster’ is . . . ? Prof. Tim Noakes, my held. Ja, ek is bereid om in die openbaar met trots te sê: Ek is ’n banter.”

Die min-koolhidraat-baie-vet-leefstyl fassineer hom al sedert verlede jaar.

“My eetlus is onder beheer. Ek het tonne meer energie. Minder mood swings – ja-nee, mans kry dit ook. En ’n paar kilo’s afgeskud,” skryf hy verder.

Daarom het hy vanoggend gaan gim en toe ’n gesonde ontbyt saam met vriende geniet. “What a way to enter my 'Dirty 30'! Smashing," skryf hy by ’n foto saam met sy oefenmaats:

A photo posted by Armand Aucamp (@armandaucamp) on

Vanaand gaan hy saam met sy ouers op Stellenbosch kuier. “Ek het vir myself ’n klavier gekoop,” vertel Armand, maar voeg by: “Eintlik was dit maar my ouers wat gehelp het om dit te koop.”

Hy wil weer die klawers leer tokkel nadat hy 14 jaar gelede 15-jarige opgehou het met klavierlesse. “Op hoërskool was dit vir my belangriker om te sosialiseer as om voor die klavier te sit en oefen.”

In Februarie gaan hy en sy beste maats sy verjaardag ordentlik vier “wanneer almal weer geld het” met ’n middagete-jazzkonsert in Kloof Street House, Tamboerskloof.

Die lesse wat Armand geleer het in die aanloop tot sy mylpaalverjaardag is om minder om te gee wat mense van hom dink en om te spaar. “Veral as jy ’n vryskut-akteur is, is dit belangrik om geld weg te sit,” sê hy.

Op die oomblik is hy besig om advertensies te skiet in die Moederstad: ’n Amerikaanse advertensie vir kaas en ’n Duitse een vir ’n soortgelyke plek as ons Builders Warehouse.

“Ek moet soos Patrick Swayze in Dirty Dancing daardie bekende danspassie uitvoer en ’n vrou bo my kop optel,” verklap hy. Hy speel Jan van Riebeeck in die fliek Krotoa wat op 14 Augustus begin draai en begin eersdaags skiet aan die tweede seisoen van Die Boekklub, wat in Julie op die kassie gaan wees.

A photo posted by Armand Aucamp (@armandaucamp) on

Het hy enige boodskap vir sy aanhangers?

“Moenie jou verknies oor teleurstellings en doelwitte wat jy nie verlede jaar kon bereik nie. Pak hierdie nuwe jaar met hernieude passie, inspirasie en energie aan.”