Twee dekades gelede het sommige mense gefrons toe die veteraan-akteur Pierre van Pletzen en die nuweling-aktrise Sandra Vaughn afhaak.

pierremain

Daar is immers ’n ouderdomverskil van 22 jaar tussen hulle, is gefluister. Maar vandeesweek vier die paartjie hul 20ste huweliksherdenking en is hulle gelukkiger as ooit.

“Ons is sommer nog baie lief vir mekaar!” straal Pierre, wat die afgelope 17 jaar die rol van Oubaas in die sepie 7de Laan speel.

“In ons slaapkamer word daar geen laken gespan nie!” grap Sandra.

Wat is die geheim tot hul langdurige liefde?

Kommunikasie, som Pierre hul verhouding in een woord op. “As ’n mens nie met mekaar kan gesels nie, is dit neusie verby.”

En gee vir mekaar ruimte, voeg Sandra by. Sy vertel wanneer sy in die aand moeg gewerk is en Pierre wil kuier, sal sy vir hom sê om haar net eers 20 minute van eietyd te gee. “Dit is waar respek vir mekaar inkom.”

Pierre sê getroudes moet onthou hulle is “huweliksmaats” en nie “huweliksvyande” nie. “Daarom baklei ons nooit. Wanneer ’n meningsverskil of probleem opduik, praat ons die ding sommer net so uit.”

[caption id="attachment_149545" align="alignnone" width="600"]Pierre sê getroudes moet onthou hulle is “huweliksmaats” en nie “huweliksvyande” nie. Pierre sê getroudes moet onthou hulle is “huweliksmaats” en nie “huweliksvyande” nie.[/caption]

Moet ook nooit jul liefdestaal vergeet nie, al is jy al jare lank in ’n verhouding, is albei se raad. Wanneer hulle soggens opstaan, sal hulle mekaar altyd eers ’n drukkie gee, hul liefde betuig en daarna saam ’n gebed doen voor hulle die dag se bedrywighede aanpak.

Hierdie liefdestaal bestaan ook uit woorde van dankbaarheid, verduidelik hulle. “Daar sal nie ’n dag verbygaan dat ons nie ten minste vier keer vir mekaar dankie sê vir iets nie, al is dit per SMS,” vertel Pierre. “Hierdie ‘dankie sê’ kan vir enigiets wees en moet alles insluit, anders begin julle mekaar as vanselfsprekend aanvaar.”

Voorbeelde van onlangse dankiesê-boodskappe wat hulle vir mekaar gestuur het, sluit in: Dankie dat jy die skottelgoed gewas het, dankie vir die uitvat van die vullis, en dankie vir die kos wat jy besig is om te maak.

’n Dankbare hart vol waardering vir mekaar, hou jou naby aan mekaar, glo die twee.

Huweliksraad soos dié is niks nuuts nie, sê Pierre. “Mense lees dit en hoor dit. Mense weet dit. Maar hulle pas dit nie toe nie. Dit is die probleem.”

Hy beskou die liefde soos ’n diep gat wat ’n mens grawe om ’n boom in te plant. “Hoe dieper jy die gat grawe, hoe sterker groei die wortels. Wanneer ’n storm uitbreek, sal die boom dit oorleef, want sy wortels is diep geanker.”

Sandra vat die boomverwysing verder: “Mense maak ook ’n fout as hulle dink jy moet een mens word ná ’n huwelik,” sê sy. “Julle bly twee individue. Julle bly twee bome wat langs mekaar groei. Dit is net jul takke wat in mekaar verstrengel raak.”

En Pierre se raad vir mense wat nog op trou staan: “Moenie met iemand trou wat nie by jou pas nie!”

[caption id="attachment_149547" align="alignnone" width="600"]Pierre is tans besig met sy eenmanvertoning, Voël innie Hand. Pierre is tans besig met sy eenmanvertoning, Voël innie Hand.[/caption]

Daar wag geen romantiese wegbreek-Desembervakansie vir dié twee nie, want Pierre moet werk. Hulle is juis nou besig om reg te maak vir die langpad waar Pierre tot die einde van die maand feitlik elke aand sy eenmanvertoning, Voël innie Hand, in teaters in die Wes-Kaap gaan opvoer.

Die komedie, wat ook deur Pierre geskryf is, handel oor ’n veteraan-akteur wat op die verhoog stap om met die openingstoneel van ’n verhoogproduksie te begin. Skielik besef hy hy is alleen; die ander spelers het nooit opgedaag nie.

Maar “the show must go on” en die akteur besluit om op sy eie met die produksie voort te gaan.

“Hoe meer die spanning op hom inwerk, hoe meer drink hy,” verklap Pierre. “Ná ’n ruk kom hy in sy beneweldheid alles en almal by met kwinkslae wat hy wyd en syd uit sy beskonke brein opdiep.”

Maar onthou, die show is ’n bietjie stout; daarom word ’n streng ouderdomsperk van 16 jaar gehandhaaf, waarsku Pierre met ’n vonkel in die oog.