Die sangeres Franja du Plessis (23) is verlief en verloof!

Haar aanhangers sukkel die afgelope tyd om die knewel van 'n ring aan haar ringvinger mis te kyk en wens haar gedurig geluk met die blye nuus.

Franja het verlede jaar haar debuutalbum, My Verhaal, uitgereik en het sedertdien flink in haar bekende ma, die sangeres Juanita du Plessis, se voetspoor begin volg.

Sy het self die 16 liedjies op haar album, wat goue status bereik het, geskryf.

Toe ons haar verlede jaar pols oor waar haar skryfinspirasie vandaan kom, het ma Juanita vinnig geskerts: “Willie, Willie en miskien weer Willie.”

Dis nou Willie Engelbrecht (24), wat sedert hul skooldae aan die Hoërskool Die Wilgers Franja se kêrel is – amper ses jaar al. Hy speel rugby vir Tukkies. Franja het beaam sy skryf graag oor die liefde.

Sy het 'n maand gelede op Instagram 'n foto van haar en Willie gedeel waarop dit lyk asof sy 'n sjampanjeglas vashou terwyl sy Willie op die wang soen. Sy het by die foto geskryf:

"Terugflits na een van die lekkerste dae van my lewe saam met hierdie lief van my!"

Sy en haar tweelingboet, Mario, het Maandag hul verjaardag gevier en op 'n foto wat sy van hulle gedeel het skitter haar ring weer.

A photo posted by Franja Du Plessis (@franjadp) on

Dis sowaar goeie nuus vir Franja, Willie en hul families. Baie geluk, julle!