[caption id="attachment_116323" align="alignnone" width="600"]Die mannegroep NRG is nie meer. Foto: Verskaf. Die mannegroep NRG is nie meer. Foto: Verskaf.[/caption]

NRG, wat as “energie” uitgespreek word, bestaan uit Christiaan “Wolf” Botha, Abel “AB-Kenobi” Knobel en Stephan “Stephanasties” van Huyssteen.

Sedert hulle die Afrikaanse popwêreld in 2011 getref het, het hulle veral bekend geword vir treffers soos Mayday, Ek Kan Jou Nie Keer, Onvoorwaardelik en Roulette.

Lees ook: Gewilde countrysangeres praat oor haar gewigsverlies

Dié groep het ook ’n rits benoemings by die Tempo- en Ghoema-musiektoekennings agter hul naam.

Die drie manne het nou egter besluit dit is tyd om halt te roep en vir eers elkeen ’n nuwe hoofstuk in hul lewe aan te pak.

“Ons het elkeen ook sterk talente op ander gebiede as sang, goed wat ons graag vir nou die tyd sal wil neem om verder te bemeester en bevorder,” sê hulle.

Christiaan voeg by: “Ons het geweet groepe hou nie vir ewig nie. Dis hartseer om so baie energie en passie in NRG te belê het, maar dit was absoluut die moeite werd gewees danksy ons ongelooflike aanhangers.”

Oor die redes waarom die groep besluit het om te ontbind, sê Christiaan net dit was “glad nie oor politieke redes nie”.

“Ons het net saam die groep ontgroei en besef ons het groter drome.”

Lees ook: Boer soek ’n Vrou kry nuwe aanbieder!

Abel stem heelhartig saam. “Dis baie hartseer, maar ten minste weet ek ons paaie gaan nie heeltemal skei nie; ons gaan nog baie saamwerk aan ander projekte.”

Stephanus en Christiaan begin nou saamwerk aan ’n nuwe onderneming terwyl Abel beplan om ’n sololoopbaan na te jaag. “Ek wil graag vir ’n jaar oorsee gaan musiek maak,” vertel hy.

“Dit was ’n fantastiese pad tot hier en daarvoor is ons onbeskryflik dankbaar, maar wat nou voorlê is vir elkeen van ons selfs meer opwindend.”

Ondersteuners kan op elkeen se individuele Facebook-blad gaan loer om op die hoogte te bly van hul nuwe loopbaan.

– Jaco Hough-Coetzee