Huisgenoot het by ’n betroubare bron verneem Johann Botha, wat in Kensington gebly het en deesdae ’n vryskut vervaardiger vir Carte Blanche was, is in die kop geskiet waar hy saam met die eienaar van Zebra Inn Takeaways, beter bekend as "Swazi se pub" in Jeppestown gekuier het. 

Die eienaar is in die bors geskiet. Hulle is albei op die toneel dood.

Volgens die polisiebron het twee rowers kort ná 19:00 die kroeg binnegestap. Die man en vrou het na bewering reeds die vorige aand daar gekuier en die kroegman het dit verdag gevind toe die man wou hoor waar die toilette is.

“Toe hy glo vir hom sê, maar jy was gisteraand mos hier? Het die man ’n vuurwapen te voorskyn gebring,” vertel die bron. 

Die rower het die kroegman op die grond laat lê en geld van die eienaar geëis. Dié het geweier. “Johann het toe gesê hy sal geld gee, maar die rower het hom summier in die kop geskiet,” vertel hy. 

Die eienaar is toe ook geskiet.

Kapt. Richard Munyai, ’n woordvoerder van die Jeppestown-polisiekantoor het die voorval bevestig, maar wou nog nie die slagoffers se name bevestig nie. 

Huisgenoot het onafhanklik by ’n tweede bron bevestig Johann was een van die slagoffers. Die polisie sê ’n klag van besigheidsroof en twee aanklagte van moord word ondersoek.