Mel B het Stephen op 17 Maart vanjaar verlaat – tot groot skok van haar miljoene aanhangers. Sy het immers ’n paar weke tevore nog ’n roerende huldeblyk aan haar man in die sosiale media gedeel. In die huldeblyk sê sy dat die paartjie deur baie dinge is wat gewoonlik enige ander paartjie uitmekaar sal skeur, maar dat hulle twee “sterker aan die ander kant daarvan” uitgekom het. “Jy het my liefgehad voor ek geweet het hoe om vir myself lief te wees. Jy’s my wêreld, liefie, en laat ons nie vergeet jy kan ook ’n stommerik wees nie. xxxx”

In regsdokumente wat nou opduik, word beweer Mel en haar drie kinders het vir hul lewe gevrees weens Stephen wat haar glo jare lank aan mishandeling onderwerp het.
In die dokumente, wat deur TMZ.com in die hande gekry is, word die beweerde mishandeling uitgespel. Daarin beweer Mel haar man het haar in November 2007 begin mishandel. Luidens haar verklaring was sy besig om voor te berei vir die Dancing With The Stars-eindronde toe hy sy hande om haar nek slaan. Hy sou begin om haar te wurg en het haar glo op die harde houtvloer neergegooi.
“Hy sou my geslaan het net om te wys wie’s in beheer,” het sy beweer. Stephen se grootste struikelblok was glo jaloesie. Volgens Mel het die groen monster sy kop uitgesteek toe sy in 2012 ’n lied saam met die sanger Usher opneem. Kort voor die videogreep verfilm sou word, het Stephen haar glo met ’n toe vuis bygedam. Haar lip het oopgebars.
Toe sy van hom wou weet hoe sy veronderstel is om met so ’n besering te werk, was sy antwoord: “Jy moes daaraan gedink het voor jy besluit het om met Usher te flirt en by hom te slaap.”

Sy beweer ook Stephen het seksvideo’s van hulle twee en het gereeld gedreig om dit openbaar te maak. Dié dreigement het glo gereeld kop uitsteek wanneer sy geweier het om saam met hom en nog ’n mens tegelykertyd seks te hê.

Mel beweer voorts Stephen het hul kinderoppasser swanger gemaak. Hy wou hê sy moet die baba behou en dat hulle drie moes saambly. Later het hy geëis dat die oppasser ’n aborsie ondergaan. Daarna sou hy haar met meer as $300 000 van Mel se geld vir “beweerde kinderoppasserdienste” vergoed.

Volgens Mel het emosionele en fisieke uitputting haar lewe in 2014 oorheers en sy het ’n hele bottel asperien-pille gedrink. Stephen het haar glo verhoed om die noodnommer te bel en het haar na bewering in die slaapkamer neergegooi. Hy het volgens haar die deur gesluit en vir haar gesê: “Gaan dood, feeks.”

Sy sou hom telkemale probeer verlaat, maar hy het haar met geweld gedreig. Hy sou glo haar loopbaan vernietig en haar kinders van haar wegneem.

Nadat die regter die beskermingsbevel uitgevaardig het, was Stephen op Maandag 3 April verplig om sy tasse te pak en die Hollywood Hills-huis wat hy met haar gedeel het, te verlaat.

Stephen ontken Mel se bewerings.

Weet jy van iemand, of dalk is jy self iemand, wat deur ’n lewensmaat mishandel word? Hierdie organisasies kan jou help.

1. FAMSA (landwyd): Bel 011-975-7101, e-pos national@famsa.org.za of gaan na famsa.org.za vir inligting en hulp.

2. Lifeline (24-uur): 0861-322-322.

3. POWA (People Opposing Women Abuse): 083-765-1235 of gaan na powa.co.za vir meer inligting en hulp.

4. Legal Aid South Africa: 0861-053-425 of besoek legal-aid.co.za vir bystand.

5. Rape Crisis: 011-642-4345/021-447-9762.

6. SA Polisie-noodnommer: 10111

Hoofbron: Cover Media