’n Dartmouth-studie in 2012 het reeds getoon sulke speletjies kan tieners aanhits om roekeloos te bestuur. Ander studies het gewelddadige videospeletjies gekoppel aan adolessente aggressie en geweld.

Maar hierdie jongste studie “is belangrik omdat dit die eerste een is wat voorstel die moontlike uitwerking van videospeletjies reik vêrder as geweld en is van toepassing op middelmisbruik, roekelose bestuur en riskante seksuele gedrag,” het James Sargent, ’n dosent in pediatrie en medeskrywer aan die studie, in ’n verklaring gesê.

Trouens, jongmense wat hierdie soort videospeletjies speel, identifiseer dalk met die antisosiale protagoniste daarin.

“Met betrekking tot die speel van afwykende karakters in videospeletjies, meen ons die beste raad is Kurt Vonnegut se vermaning in Mother Night: ‘Ons is wat ons voorgee om te wees; dus moet ons versigtig wees oor wat ons voorgee om te wees,’ ” het die hoofskrywer, Jay Hull, gesê, wat die hoof is van Dartmouth se departement sielkundige en breinwetenskappe.

Vir die studie het navorsers oor vier jaar 5 000 Amerikaanse tieners wat lukraak gekies is oor die telefoon ondervra.

Onder die faktore wat hulle bestudeer het, is drie gewelddadige videospeletjies wat geweld verheerlik - Grand Theft Auto, Manhunt en Spiderman - en ander speletjies met ’n hoë ouderdomsbeperking.

Hulle het toe ’n verband gekry tussen sulke speletjies en veranderinge in ’n breë reeks hoërisiko-gedrag.

“Dit is deels toe te skryf aan veranderinge in die gebruikers se persoonlikheid, houdings en waardes, wat hulle spesifiek meer rebels maak en meer opwinding laat soek,” lui die studie.

Navorsers het bevind die uitwerking is soortgelyk vir mans sowel as vroue, en is sterkste onder dié wat meestal speletjies speel met antisosiale protagoniste.

- Sapa

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.