Die liggaam is Maandag deur die slagoffer se familie uitgeken.

Aviwe Jam Jam (26), ’n student aan die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT) was die afgelope twee weke vermis. Sy is na bewering deur haar kêrel doodgeslaan.

Luidens berigte is die beeldskone Aviwe voorheen ook deur haar kêrel aangerand. Sy het glo na Athlone gevlug om uit die verdagte se kloue te kom.

Die polisie wou nie enige bewerings bevestig nie.

Fikile Mbalula, die minister van polisie, het Woensdag die slagoffer se familie in Khayelitsa, Kaapstad, besoek.

Die minister het die mishandeling teen vroue en kinders ten sterkste veroordeel en ’n beroep gedoen op die gemeenskap om saam te staan teen die euwel.

Hy het belowe dat die wet die slagoffer se familie sal beskerm.

“Ons sal nooit deur misdadigers regeer word nie. Ons sal hulle vind en die lang arm van die gereg sal hulle kry. Misdadigers se dae is getel. Dit is nou genoeg.”

Fikile meen ook die duiwel het die gemeenskap betree en die Jam Jam-familie geterroriseer.

In lig van Vrouedag het die minister ook die gemeenskap herinner dat vroue gevier moet word.

Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en sê ’n saak van moord word ondersoek. Hy sê: “ ’n Nadoodse ondersoek sal uitgevoer word om die oorsaak van die slagoffer se dood te bepaal. Die liggaam is op Maandag 7 Augustus deur die familie uitgeken. Die ondersoek duur voort."

Vriende en familie van Aviwe het hul medelye en seer oor die voorval in die sosiale media gedeel.