Die ma van twee is in die Franse hoofstad vir die Paryse Modeweek en het vroeër die dag die Balenciaga- en Givenchy-vertonings en die Siran Presentation by die Hotel Plaza Athenee bygewoon.

Maar nadat sy na haar hotelkamer teruggekeer het, het twee mans wat soos polisiebeamptes aangetrek was, Kim gekonfronteer en in die kamer aangehou. Die voorval het glo tussen drie- en vieruur die oggend plaaslike tyd plaasgevind.

“Kim Kardashian West is vannag met vuurwapens in haar hotelkamer aangehou deur twee gemaskerde mans wat soos polisiebeamptes aangetrek was,” het 'n woordvoerder vir die ster in 'n verklaring gesê. “Sy is kwaai geskok, maar fisies ongedeerd.” Kim se kinders, die driejarige North en Saint (10 maande), is glo nie deur die voorval geraak nie, volgens People.com. Volgens Yahoo News is Kim van miljoene rande se juwele beroof. Haar man, Kanye West, het vroeër kommer laat ontstaan toe hy sy optrede by die eerste Meadows Festival in Queens Sondagaand ná net 'n uur beëindig het en vir die gehoor gesê het hy moet dadelik loop.

In die middel van die uitvoering van sy liedjie Heartless, het Kanye aan die gehoor geê: “Ek is jammer. Familienoodgeval. Ek moet die vertoning beëindig.”

Aanhangers het gou op Twitter begin bespiegel oor die rede vir dié vroeë beëindiging. 'n Gebruiker met die naam Stephen Dacres het geskryf: “Kanye se assistent het hom na die kant van die verhoog geneem. Toe sê hy oor die mikrofoon hy het 'n gesinsnoodgeval en stop die vertoning #Meadows."

The Meadows New York City het in 'n verklaring op Twitter bevestig Kanye het onttrek: “Weens 'n noodgeval moes Kanye West sy vertoning vroeg beëindig. Kom asseblief veilig by die huis.”

Kim is in Parys saam met haar susters Kourtney Kardashian en Kendall Jenner en ma Kris Jenner. Kourtney en Kendall bly in The Peninsula Hotel in Parys. Maar ’n verteenwoordiger van die blyplek het aan Dailymail.com gesê hulle “is nie bewus van enige gaste wat in ons hotel aangeval is nie.”

© Cover Media