Die legendariese Sam Shephard (73) wat in tientalle flieks en televisiereekse te sien is, was ook ’n Pulitzer-bekroonde dramaturg. Dit het Maandag bekend geword dat hy op 27 Julie aan Lou Gehrig-siekte gesterf het.

Talle sal hom onthou vir sy rol in die uitsonderlike fliek, The Notebook (2004).

In dié fliek het hy die rol van Frank Calhoun, Noah (Ryan Gosling) se pa vertolk.

Sy toetrede tot die silwerskerm het in 1978 reeds in alle erns begin toe hy teenoor Richard Gere en Brooke Adams in die fliek Days of Heaven verskyn het.

Tien flieks waarin Sam verskyn het

  • The Notebook (2014)
  • The Right Stuff (1983) - waarvoor hy vir ’n Oscar genomineer is
  • Black Hawk Down (2001)
  • Swordfish (2001)
  • Osage County (2013)
  • Safe House (2012) - gedeeltelik in Suid-Afrika vervaardig
  • Charlotte’s Web
  • All the Pretty Horses (2000)
  • Snow Falling on Cedars (1999)
  • Never Here (2017) wat op 18 Junie uitgereik is

Talle kortverhale en 44 toneelstukke is uit sy pen gebore. Hy is by geleentheid as die grootste dramaturg van sy generasie beskryf.

Sam wetenskapsfiksie-drama The Unseen Hand (1969) sou ’n groot invloed gehad het op die The Rocky Horror Show-toneelstuk.

Tien van Sam se pennevrugte

  • Cowboys
  • Fool for love (Pulitzer-prys 1984)
  • Chicago
  • Curse of the Starving Class
  • Buried Child (Pulitzer-prys in 1979)
  • True West (Pulitzer-nominasie in 1983)
  • Ages of the Moon
  • A Short Life of Trouble
  • A Lie of the Mind
  • Operation Sidewinder

Meer oor Sam

Wat minder bekend is, is dat Sam ook ’n bietjie met rock-musiek flankeer het. Hy was deel van ’n groep wat hulself Lothar and the Hand People genoem het.

Hy sou later by die Holy Modal Rounders, wat deur Peter Stampfel en Steve Weber gestig is, aangesluit het.

Sam het ook met Bob Dylan saamgespan met die skryf van die liedjie Brownsville Girl.

Sam het nie net die rol van ’n cowboy goed vertolk nie, hy  het eerstehandse ervaring met rodeos opgedoen waar hy wilde perde en befoeterde bulle sou aanpak. As jong man het hy vir twee jaar ook op ’n plaas gewerk.

Sam sou net een keer in sy lewe die rol van een van sy eie karakters vertolk. Dit was in die rol van Slim in Cowboy Mouth (1971) en hy het daarin saam met sy destydse meisie, Patti Smith, opgetree.

Patti was onbewus van Sam se sukses as dramaturg. Hy was in daardie stadium nog getroud met O-Lan Jones. Uit hul huwelik is ’n seun, Jesse Mojo Shephard (1970) gebore.

Sam was vir bykans 30 jaar by die aktrise Jessica Lange betrokke nadat hulle op die rolprentstel van die fliek Frances ontmoet het. Twee kinders, Hanna Jane (1985) en Samula Walker Shepard (1987) is uit hul verhouding gebore.

Twitter se reaksie

Bronne: broadwayworld.com, imdb.com, nytimes.com, wikipedia.org