Suid-Afrika se top Superrugby-span, minus Kwagga Smith vir die hele tweede helfte, het eindelik 'n eerbare neerlaag gely, maar 'n reëlverandering is nodig, meen die SuperSport-kommentator Nick Mallett.

Uiteindelik is nog 'n groot wedstryd waarna soveel rugbyliefhebbers reikhalsend uitgesien deur 'n rooi kaart oorskadu, vat Gavin Rich, skrywer van The Springbok Coaches, ook agterna die sentiment van baie mede-ontleders en aanhangers saam ná die Crusaders se eindstrydsege van 25-17.

"Die punt is dat ons nooit sal weet wat kon gebeur het as dit heelpad 15 teen 15 spelers was nie, gegewe die Lions se terugvegpoging in die laaste kwartier...''

Ook hul breier Johan Ackermann het die impak van 'n veelbesproke reël betreur: "Ek dink nie 62 000 mense het betaal om 'n 15 teen 14-wedstryd te sien nie".

En hy't benadruk geen spanlid verkwalik die staatmaker Kwagga oor hy in David Havili vasgehardloop het toe dié gespring het om 'n bal uit die lug te vang nie... en die Crusaders-heelagter toe skouers eerste weer grond gevat het nie.

Dit was immers klaarblyklik nie met opset nie. "Coach Ackers" se eweknie Scott Robertson dink eweneens dit was slegte geluk: "Dit het 'n invloed op die uiteinde gehad en dis hartseer vir die Lions, wat omtrent vir jou 'n seisoen gehad het..."

Blaser se perspektief

Die bekende oudtoetsskeidsregter Freek Burger vertel Huisgenoot ook nou dis hoog tyd dat daar weer oor beide rooi kaart- en geel kaart-reëls besin moet word. As uitwysingskommissaris kan hy hom nie spesifiek uitlaat oor die Kwagga-insident nie, maar hy't wel 'n paar idees hoe kaart-strafmaatreëls in die algemeen dalk aangepas kan word om te help verhinder dat wedstryde wat almal wil sien vorentoe bederf word.

Feit bly, "mense wil vyftien teen vyftien op die veld hê. Ek het juis nou byvoorbeeld in my private hoedanigheid voorstelle hieroor vir die Varsity-beker gemaak. Dit kom daarop neer dat jy nie die hele span straf nie; straf eerder die speler. As iemand 'n rooi kaart-oortreding begaan,  jaag hom byvoorbeeld vir twintig minute af [vergeleke met tien vir 'n geel kaart-oortreding], maar bring hom dan weer terug.

"My voorkeuropsie sal egter wees om die oortreder met 'n speler van die reserwebank af te vervang. Dan het daardie afrigter skielik 'n speler minder op die bank.'' Dít, en dat die oortreder wat dan heeltemal uit die wedstryd verwyder word, moontlik 'n sleutelspeler in die beginvyftiental is, sal wel breiers en spelers aanmoedig om streng dissipline te handhaaf.  

Wat ook al dalk met die kaartreëls gebeur, moet spelers egter nie die idee kry dat hulle met gemene spel kan wegkom nie. "Daardie soort gedrag moet jy uitwis. As jy dit nie behoorlik straf nie, gaan jy groot probleme ontwikkel. En dissipline op die veld bly steeds 'n bron van kommer.''

Wat die huidige geel kaart-reëls betref, meen Freek ook daar moet onderskei word tussen blote "siniese" oortredings enersyds, byvoorbeeld opsetlike ontkantspel en aanslane of spelers wat nie wegrol by losskrums nie, en andersyds gemene spel. Eersgenoemde kan byvoorbeeld aanvanklik eerder as 'n "wit kaart" hanteer word, en twee wittes in 'n wedstryd kan dan op 'n geel kaart uitloop. Daar moet dus 'n baie fyner onderskeid getref word tussen die erns van verskillende geel kaart-oortredings as wat tans die geval is.

Hoe ook al, dit kan net tot rugby se kykbaarheid bydra as al daai kaartreëls weer deeglik bekyk word.

Intussen kan Freek skaars glo in sy dae "het ons sonder rooi of geel kaarte of TV-skeidsregters geblaas - en sonder veel drama. Jy was alleen op die veld, solo-beoordelaar van die rugbywetboek, die feite op die veld... en ons beslissings is nogal redelik deur almal aanvaar.''

Ekstra bron: SuperSport