Waar is Uiltjie, daardie gevleuelde weldoener wat met sy sorgsaamheid TV-kykers aan die hart gegryp het?

Op die plaas Elandskloof naby Grahamstad kry ons hom waar hy in die sonnetjie sit. Die einste uil het verlede jaar ’n TV-ster geword toe ’n video-insetsel met hom in die hoofrol die Kwêla-videowedstryd op kykNET wen.

Daarop kon kykers sien hoe die gevlekte ooruil kos vir siek en beseerde roofvoëls en ander diere vang en aandra, so asof hy nog onthou hoe dit voel wanneer jy honger of seer by hierdie toevlugsoord vir diere beland.

Uiltjie het sewe jaar gelede uitgehonger hier opgedaag nadat hy heel moontlik ontsnap het van iemand wat hom as ’n troeteldier aangehou het, vertel Chris Pretorius, die eienaar van die plaas waar siek en getraumatiseerde diere reggedokter word.

Die mak uiltjie het al om die huis geboer. Chris het Uiltjie leer jag deur dooie voëls vir hom te gooi wat hy in die pad opgetel het en dooie muise wat hy by hul katte afgevat het.

Hy het ook Uiltjie se “prooi’’ aan ’n vislyn vasgemaak en dit oor die gras getrek sodat hy dit kon bespring.

“Ná ’n paar maande en baie geduld was my pogings suksesvol. Ek kon agterkom hy begin selfstandig raak en vir homself sorg.”

Sowat ’n jaar nadat Uiltjie by die plaas opgedaag het, het hy weggeraak. Toe hy agt dae later terugkom, was sy regterbeen en rug so erg beseer,  hy kon skaars kon loop. Bygelowige mense het hom met klippe bestook of met stokke geslaan, vermoed Chris.

Die veearts wou hom uitsit, maar Chris, sy vrou, Elmaretha, en hul dogters, Carmen, Maristie en Soné, wou van niks weet nie.

Eers sowat ’n jaar later kon Uiltjie weer normaal jag. Hy het so goed herstel dat hy in ’n bobaas-jagter ontluik het. Hy het gereeld sy prooi huis toe gebring en voor siek en wees uiltjies neergesit. Later het hy ander voëls en selfs die katte daarmee begin voer.

Chris het Uiltjie se voedingsveldtog snags op veiligheidskameras vasgevang en dit na Kwêla toe gestuur. Daarmee het hy ’n luukse kampeervoertuig en ’n eilandvakansie gewen, ’n welverdiende beloning vir Uiltjie se mense-redders.

Hy beklemtoon roofvoëls is nie veronderstel om as troeteldiere aangehou te word nie. Hy doen elke keer om ’n tydelike permit by natuurbewaring aansoek wanneer ’n siek of beseerde roofvoël op die plaas versorg word.

Uiltjie help nog met die rehabilitasie van veral geveerde pasiënte. Net in die afgelope twee jaar het hy 15 gevlekte ooruile, ’n grasuil, vleiuil en ’n reuse-ooruil suksesvol help rehabiliteer. Die mense op die plaas moet net keer of hy voer ook vir hulle muise, rotte, molle, vlermuise en selfs slange . . .

“Hy sit gewoonlik daar onder by die dam in die doringboom,” vertel Chris, maar vandag het Uiltjie hom in die son tuisgemaak.

“Gevlekte ooruile is eintlik lief vir die son,” verduidelik hy. Dan vertel hy van ’n wyfie wat hier iewers skuil.

“Uiltjie hoort in die natuur en dit is my hartsbegeerte dat hy eendag die geluk sal smaak om sy eie kleintjies saam met sy eie wyfie groot te maak.”

-   Pieter van Zyl