Meer as 30 mense is in Mosselbaai in die Wes-Kaap vir breinvliesontsteking behandel.

[caption id="attachment_116373" align="alignnone" width="600"]Foto: http://www.torange.us/ Foto: http://www.torange.us/[/caption]

Die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid het Sondag gesê daar is 33 gevalle aangemeld sedert die uitbreking in Desember begin het.

Almal was in die Mosselbaai-gebied, het die woordvoerder Mark van der Heever gesê.

Altesaam 32 van die gevalle was minderjariges, het hy gesê. Die aangetastes het by ’n privaat hospitaal behandeling gekry.

Mark het gesê die uitbreking het tot dusver nie buite Mosselbaai versprei nie.

Lees ook: Ingewandskoors versprei na Kaap – drie gevalle aangemeld

Die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid probeer nou die oorsprong van die uitbreking bespaal en het oordraagbaresiekte-taakspanne na die gebied gestuur.

Simptome

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid sê die simptome kan wissel en met dié van ander siektes oorvleuel. Die algemene tekens en simptome om na uit te kyk, is:

  • Koors, hoofpyn, ’n stywe nek, moegheid, sensitiwiteit vir lig
  • ’n Uitslag, seer keel en braking kan ook voorkom

Raadpleeg dadelik ’n dokter, kliniek of hospitaal as ’n mens enige tekens van die onderstaande gevaartekens toon:

  • bewusteloosheid,
  • ’n toeval (stuiptrekkings),
  • spierswakheid, of
  • ’n uitslag van donker, rooi verkleuring oral oor die lyf.

Hoe kan jy voorkom dat jy besmet word?

  • Handhigiëne (om jou hande gereeld met seep en water te was) en goeie persoonlike higiëne help voorkom besmetting met baie virusse, onder meer die enterovirus. Die virus versprei deur kontak met besmette stoelgang.
  • Was jou hande met seep en water nadat jy die toilet besoek het, voor jy kos berei en nadat jy genies of gehoes het.

Volwassenes moet hul kinders leer en aanmoedig om hul hande behoorlik te was en beklemtoon hulle moet gereeld hul hande was wanneer hulle by die skool en in kontak met ander kinders is.

Bron: News24