IOL.co.za berig die pa, wat nie wil hê sy seun of die skool waarin hy was moet geïdentifiseer word nie, sê hy het sy seun verlede Vrydag soos gewoonlik by die skool gaan haal.

Die pa is om en by 16:00 na sy kantoor in die huis toe en teen vyfuur het hy sy seun se liggaam naby die deur in sy kamer gekry. ’n Belt was om die deur se handvatsel vasgedraai en gedeeltelik om sy nek.

“Daar is geen ander rede hiervoor (vir sy dood) nie. Ons het planne gehad vir die volgende dag. Hy verjaar oor drie weke. Volgende maand sou sy draadjies afgehaal word en hy het uitgesien na sy eerste buitelandse reis na familie in Ghana,” sê die pa.

Boonop het die seun glo ’n paar weke gelede oor die speletjie gepraat en gesê daar is kinders by die skool wat dit speel.

Tydens dié speletjie versper mense doelbewus die suurstoftoevoer na hul brein om vir ’n kort rukkie flou te word en daarna eufories te voel omdat suurstof skielik weer na die brein stroom.

Iemand kan dit self doen of iemand anders dit laat doen. Mense neem aan die speletjie deel weens onder meer groepsdruk, nuuskierigheid, ’n soeke na euforie en bedwelming sonder enige uitgawes.

Ouers kan uitkyk vir die volgende tekens:

  • Merke of kneusplekke op die nek.
  • Bloedbelope oë.
  • Die mens dra klere om die nek te verbloem, selfs in warm weer.
  • Verwardheid en disoriëntasie nadat hulle vir ’n ruk alleen was.
  • Goed wat rondlê, soos leibande, toue, serpe, reksprong koorde en belde.
  • Kinders wat gereeld ernstige hoofpyne kry.
  • Geheimsinnige gedrag, geïrriteerdheid en vyandigheid.
  • Bloed onder die vel in die gesig en by die ooglede.

Bronne: Tweenparenting.about.com; Wikipedia.org