Pieter du Toit, assistent-redakteur van Huisgenoot, maak stem dik oor die toedrag van sake by die SAUK.

Motsoeneng, die SAUK se hoof van korporatiewe aangeleenthede (en eks-bedryfshoof), kan onmoontlik in sy pos aanbly en sy werkgewers, die SAUK-raad, sal tot verantwoording geroep word, het hy driftig gesê. Dit was nie net Mthembu wat kwaad was nie: Jeff Radebe, minister in die presidensie, het ook gesê die SAUK minag die hof indien hy Motsoeneng in ’n ander senior bestuurspos aanstel.

Lees ook: Gewilde aktrise wys groot rol in SAUK-reeks van die hand ‘oor Hlaudi’

Vandeesweek kan ons dus uitsien na die spektakel wat die parlementêre portefeuljekomitee oor kommunikasie geword het wanneer die SAUK-raad, almal ANC-ontplooides, deur ANC-LP’s in die naam van goeie korporatiewe bestuur, deursigtigheid en die oppergesag van die wet uitgetrap gaan word.

Die kans is goed die komitee sal net daar besluit om ’n mosie in die Nasionale Vergadering (NV) voor te lê waarin gevra word dat die SAUK se raad ontbind en ’n waarnemende raad ingestel word (om oorsig oor die waarnemende groephoof, waarnemende bedryfshoof, waarnemende hoof finansiele beampte en die res van die waarnemende uitvoerende bestuur te doen). Die soektog na ’n nuwe, bevoegde en kundige raad sal dan in alle erns begin, sal Mthembu waarskynlik aan LP’s verduidelik.

Dit is als goed en reg – daardie lot moet sonder omhaal en summier afgedank word – maar Motsoeneng, die ongebreidelde korrupsie by die SAUK en die uitsaaier se haglike finansiële posisie is volledig ’n ANC-maaksel.

Mthembu, Radebe en die res van die ANC-verontwaardigdes is heeltemal reg as hulle sê wat in die reuse-SAUK-hoofkantoor op die hoek van Empire- en Henley-weg in Aucklandpark aangaan onaanvaarbaar is – die redes wat hulle aanvoer is egter oneerlik en leuenagtig.

Die ANC het kort ná 1994 nie op hom laat wag nie en die openbare uitsaaier baie vinnig as ’n terrein van strategiese struggle geïdentifiseer. Die omvorming van die SAUK as ’n Afrikaner-nasionale na ’n Afrika-nasionale uitaaier kon ondanks die harde teenkanting van talle passievolle loopbaanjoernaliste nie gestuit word nie.

Die ANC het die SAUK-raad oor die afgelope 20 jaar deur middel van die portefeuljekomitee, waarin hy ’n meerderheid geniet, in ’n ystergreep en hy besluit baie fyn wie daarheen ontplooi word. Soms gooi hy ’n troosprys in die rigting van plooibare opposisiepartye (soos die IVP) en laat hulle toe om een van die 12 raadslede aan te wys, maar meesal moker hy sy keuses hard- en eiehandig deur die NV.

Die nie-amptelike maar baie sigbare mandaat van hierdie raad was nog altyd dieselfde: oefen streng beheer oor die redaksionele rigting van die SAUK ten bate van die regering uit, bestuur transformasie ten gunste van ANC-lede en ondersteuners en gebruik die uitsaaier se mandaat om staatshulpbronne te herverdeel.

Die SAUK van die anderhalf dekade was besonders doeltreffend met die uitvoer van hierdie mandaat. Die regerende party en sy ontplooides in die staat geniet besonderse en positiewe dekking, ’n veelvlakkige superstrukuur is gebou en het die ruimte vir die ontplooiing van regimente nuwe kaders geskep terwyl die Wet op Openbare Finansiële Bestuur niks meer as ’n vae herinnering vir ’n rits finansiele bestuurders was nie.

Dis binne daardie konteks waarin ’n megalomaniese despoot en plunderaar soos Motsoeneng verrys het. Sy aanstelling so paar jaar gelede is volgens oorlewering as gevolg van ’n direkte aanbeveling van pres. Jacob Zuma, en als wat hy gedoen het was dus (in sy kop) met die kondonering van die ANC-leier en die ANC-beheerde parlement.

Eintlik moet ’n mens Motsoeneng jammer kry, hy’s bloot true to type en maak presies soos sy meerderes geweet het hy gaan maak en soos sy voorgangers gedoen het. Die kans dat Mthembu en die ANC hul wee gaan verander is egter nul – Motsoeneng is dalk eersdaags weg, maar daar’s nog baie waar hy vandaan kom.