Selfs gevaarlike dwelmbase is op Facebook.

[caption id="attachment_163699" align="alignnone" width="600"]Foto: Italiaanse polisie Foto: Italiaanse polisie[/caption]

Die veroordeelde dwelmhandelaar Giulio Perrone, wat voor sy verhoor op die vlug geslaan het, is twee dekades later in Mexiko opgespoor.

Giulio (65), ’n vername Mafia-dwelmbaas wat tydens die 80’s en 90’s kokaïen na Duitsland ingevoer het, is in 1998 skuldig bevind.

Hy is al amper 20 jaar lank ’n voortvlugtige – maar dit lyk of selfs veroordeelde misdadigers wat vlug van die gereg nie die aantrekkingskrag van die sosiale netwerk kan weerstaan nie.

Giulio het onder die naam Saverio Garcia Galiero dolgelukkige kiekies van sy skuilplek in Mexiko gedeel. Die foto’s wat op sy Facebookblad gedeel is, wys ’n gesonde, bruingebrande man wat op die strand uitspan, met ’n aantreklike vrou in sy arms.

Danksy hierdie oënskynlik onskuldige blad kon die polisie in Napels die berugte dwelmsmokkelaar bykans twee dekades ná sy oorspronklike inhegtenisname in 1993 opspoor.

’n Hof in Napels het hom in 1998 tot voortvlugtige verklaar nadat hy skuldig bevind is aan internasionale dwelmhandel en daar is gelas dat hy 22 jaar tronkstraf moet uitdien.

Maar Giulio het ander planne gehad; teen die tyd dat sy verhoor begin het, was hy skoonveld.

Hy het reeds in 1994, terwyl hy verhoorafwagtend was, op die vlug geslaan. Die Italiaanse forensiese polisie, wat die Facebook-inskrwyings van rampokker-families dophou, het ontdek die misdadiger is onder ’n skuilnaam op Facebook.

Galiero was sy ma se nooiensvan, wat dit selfs makliker vir die polisie gemaak het om hom terug na Italië te spoor.

Volgens ’n verklaring deur die beamptes is Giulio se inhegtenisneming die eerste van vele. “Hierdie inhegtenisneming is deel van ’n groter strategie wat deur die Italiaanse polisie se teenmisdaadafdeling bestuur word om voortvlugtiges van die mafia vas te trek wat vir talle jare hul toevlug oorsee gevind het.”

Die dwelmbaas, wat oorspronklik in 1993 in hegtenis geneem is, se vrou was saam met hom toe hy betrap is waar hy 16 kg kokaïen vervoer na ’n Camorra-misdaadsindikaat wat in Napels gebaseer was.

Giulio het weer getrou en Mexikaanse kinders gehad. Hy het by hulle in die land se noordoostelike streek, Tamaulipas, gewoon.

Die streek, eens die tuise van Mexiko se oliebedryf, het ’n ryk geskiedenis. Vandag kom smokkelbedrywighede van die land se gevaarlikse dwelmkartelle algemeen daar voor.

Nadat Mexikaanse polisiebeamptes vir Giulio aangekeer het, is hy op ’n direkte vlug na Rome geplaas, waar die polisie hom ontmoet en reguit tronk toe geneem het.

Bronne: The Telegraph, Phys.org, Breibart News, New Indian News