Oscar ontken dat hy sy meisie, Reeva Steenkamp, vermoor het. Hy beweer hy het haar vir ’n inbreker in sy huis aangesien.

Die verdediging het uit Oscar se getuienis voorgelees, waar hy ondervra is oor hoekom hy in die rigting van gevaar beweeg het.

Wayne is gevra om te verduidelik hoekom Oscar dit sou doen.

Hy het gesê dit strook met die vlug-of-veg-refleks.

Hy het ook gesê denkvermoë neem af wanneer hierdie instink oorneem.

Wayne het gesê vlug was nie ’n opsie nie weens Oscar se bene – die ander opsie is om te veg en gevaar tegemoet te kom.

Hy het ook gesê Oscar is hipersensitief vir klank en het ’n verhoogde vlug-of-veg-refleks.

Oscar is kwesbaar en sy fisieke gebrek verhoog sy vrees vir misdaad, het Wayne die hof vertel.

Oscar se laer bene is as baba afgesit omdat hy sonder fibulas gebore is.

Woensdag het die hof gehoor hy ly sedert die skietvoorval aan posttraumatiese stres en het deurlopende sorg nodig om die risiko vir selfmoord te vermy.

Die bevindinge van ’n psigiatriese verslag is tydens die Suid-Afrikaanse atleet se moordverhoor in Pretoria voorgelees.