“Asseblief, Darren, sê net dit was jy; ek kan nie nou enige spanning hanteer nie,” het die staatsgetuie Kevin Lerena die Paralimpiese atleet se woorde destyds herroep.

Kevin, wat deur die staatsaanklaer adv. Gerrie Nel ondervra is, het na Darren Fresco verwys. Laasgenoemde was in Januarie 2013 saam met Kevin en Oscar in die restaurant Tasha’s in Melrose Arch.

“Ek weet nie hoekom nie, maar iemand het ’n vuurwapen onder die tafel aangegee,” sê Kevin. Volgens hom het Darren die wapen vir Oscar aangegee en gesê: “I’m one up.”

Toe Gerrie vra wat dié frase beteken, het Kevin geantwoord dat daar een koeël in die wapen se loop was.

“Daar het ’n skoot in die restaurant geklink; toe was daar net stilte.

“Toe ek afkyk, was daar ’n gaatjie in die vloer langs my voet. Ek het nie seergekry nie, maar daar was bloed op my toon,” het Kevin getuig. “Ek was geskok.”

Agterna het Oscar verskoning gevra en wou hy weet om almal oukei is.

Die hof het vroeg vir middagete verdaag en hervat om tweeuur.

Die staat probeer bewys dat Pistorius moord met voorbedagte rade gepleeg het toe hy sy meisie, Reeva Steenkamp, op 14 Februarie verlede jaar in sy huis geskiet het.

Hy word ook aangekla van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie, en die roekelose skiet van ’n vuurwapen in die openbaar. Pistorius hou vol dat hy gedink het Steenkamp is ’n inbreker toe hy haar deur sy toiletdeur skiet.

- Sapa