Die haas is uit die hoed! Vanaf 4 April 2016 gaan die dramareeks Getroud met Rugby in 'n nuwe gedaante op kykNET verskyn.

getroud met2

Elke weeksaand om 18:30 gaan Getroud met Rugby nou as sepie in die Villa Rosa-tydgleuf inskuif.

Die besluit oor watter sepie die immergewilde Villa Rosa moet vervang, was glo nie 'n maklike een nie, vertel diegene in kykNET se binnekring.

Talle voorstelle is noukeurig oorweeg, maar, meen Karen Meiring, M-Net se Direkteur van Afrikaanse kanale: "Rugby lê die meeste Suid-Afrikaners so na aan die hart en daarom glo ons die leefwêreld rondom dié sport sal altyd relevante en boeiende stories kan vertel!"

Kykers is ook al goed vertroud met Getroud met Rugby se karakters en intriges. Die skepper en vervaardiger, Deon Opperman, gaan aanbly om die konsep in 'n sepie te omskep. "Nou kan die karakters - geliefde ou gesigte asook nuwes - elke dag bietjie dieper in die kykers se harte inkruip," sê Deon.

Kykers hoef nie bekommerd te wees hul gunsteling karakters gaan verdwyn nie. Al die gewildste karakters van die dramareeks gaan steeds hul plekke vol staan in die geselskap. Daarby gaan 'n hele nuwe gesin - kompleet met 'n pa, ma en vier kinders - hul opwagting maak. Ander nuwe karakters kom ook.

Hierdie nuwe rolle moet nog toegeken word, maar die proses is reeds aan die gang.

Besoek gerus Getroud met Rugby se Facebook-blad vir al die nuutste nuus.