Op ’n dag in Oktober van dieselfde jaar ontdek Derrick sy oogappel het voete gekry. Hy het hom dadelik na die polisiekantoor in Die Moot gehaas om die diefstal van sy motor aan te meld.

Die motor was nie verseker nie, dus was sy enigste hoop dat dit teruggevind sou word. Maar dit het nie gebeur nie; die dae het maande geword, die maande jare en die jare dekades – sy motor was skoonveld.

“Die motor was nie destyds verseker nie en nadat ek dit as gesteel aangemeld het, het ek nooit weer iets daarvan gehoor nie,” het Derrick, wat nou in Centurion woon, gesê.

Tot hy ’n hele 22 jaar later ’n oproep kry wat hom weer met sy waardevolle besitting sou verenig. Die toegewydheid, harde werk en uithouvermoë van a.o. Kwakwa Ntokola van die Seshego-voertuigdiefstaleenheid in Limpopo het gesorg dat Derrick sy motor terugkry.

“Ek het drie weke gelede ’n oproep gekry van offisier Ntokola van die voertuigdiefstaleenheid en hy het my gevra of ek destyds daardie soort motor besit het. Ou herinneringe het teruggekeer en ons het begin met die regsproses om die motor te gaan haal,” het hy vertel.

Die motor is in November 2014 in Limpopo tydens ’n padblokkade teruggevind. Die nommers op die onderstel en enjin was afgevyl, maar die polisiebeamptes kon die oorspronklike nommers vasstel en die motor met Derrick se motordiefstalsaak van destyds verbind.

Kwakwa het daarna ou verslae en papierwerk deurgewerk en kon Derrick eindelik opspoor en hom oor sy motor inlig. Die man van Centurion was vol lof vir Kwakwa. Hy het gesê sekere lede van die SA Polisiediens is laks en neem nie hul werk ernstig op nie, maar “hier is iemand wat hulle tot voorbeeld strek”.

“Ons lees elke dag negatiewe kommentaar oor die polisie, maar ek is so bly dat hierdie spesifieke beampte my in hierdie geval ná 22 jaar kon opspoor en vir my kon sê: ‘Ons het jou motor gevind; kan jy dit kom uitken?’

“Die mense wat die motor gesteel het, het die nommers van die onderstel, die enjin en ook die nommerplate verander, maar die beamptes kon die oorspronklike nommers vind,” het hy gesê.

Derrick het bygevoeg dis merkwaardig dat Kwakwa hom ná soveel jaar kon opspoor.

Hy het Donderdag sy motor gaan haal en die kans gekry om die man wat sy saak behartig het, te ontmoet.

Hy was baie bly om te sien dat sy motor nog in ’n goeie werkende toestand is. Niks was ook weg nie.

“Mense kan dit nie glo nie. As ’n motor verlede jaar gesteel is, gaan jy na die polisie se skut toe en jy kry net die geraamte daar, maar hierdie motor is baie goed opgepas. Dit is heeltemal ongeskonde,” het hy gesê.

Noudat Derrick met sy motor herenig is, gaan hy dit in sy naam registreer en hou.

Bron: News24