“Hulle is Vrydag by die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Pretoria afgelaai. Die veiligheidskameras het dit opgeneem,” het Dick Coetzer, die honde se eienaar, Maandag gesê.

“Die drie is piekfyn, maar is so getraumatiseer. Ek weet nie hoe (die vrou) hulle behandel het nie, en ek weet nie hoekom sy nie die ander teruggebring het nie.”

Dick was bekommerd oor en bang vir sy twee vermiste honde, Rooi and Lilo. Hy vermoed hulle is vir teeldoeleindes geneem.

Hy bied ’n beloning van R5 000 vir hul veilige terugkeer, en het ’n diefstalsaak by die Villieria-polisiekantoor aanhangig gemaak.

Verlede week het die koerant Rekord berig twee vroue, wat hulle as inspekteurs van die vereniging vir die voorkoming van wreedheid teenoor diere voorgedoen het, het Dick se huis besoek en hom oor die huskies ondervra.

“Hulle het vrae begin vra, soos waar die honde snags slaap en of vlieë hul ore byt,” het Dick na bewering aan die koerant gesê.

“Hulle het ook gevra hoekom een van die honde se oë tranerig is.”

Volgens die koerant het Dick gesê die diere se beddens is onder ’n motorafdak en dat hy ’n afspraak met die plaaslike veearts gemaak het om na hul ore en oë te kyk. Die vroue het gesê hulle sal ’n week later weer kom ondersoek instel.

“Maar ’n uur later het hulle teruggekom en beweer hulle het met die DBV gepraat; hulle moet my honde neem en hul oë en ore gratis behandel,” het hy gesê.

“Ek het aan hulle gesê ek sou dit betaal, maar hulle het daarop aangedring om die honde te neem vir die gratis behandeling.”

Toe hulle nie met die honde terugkeer nie, het Dick na bewering die Tshwane-DBV gekontak en het gehoor hulle is nie werknemers nie.

’n Woordvoerder vir die Tshwane-DBV, Korkie Levanon, was Maandag nie vir kommentaar beskikbaar nie.