Die polisie het die akteur Laurence Fishburne, veral bekend vir sy vertolking van Morpheus in The Matrix-trilogie, se dogter Saterdag in hegtenis geneem op aanklag van dronkbestuur. Die verkeerspolisie van Florida het Montana Fishburne (25) naby haar huis in Fort Lauderdale vasgetrek nadat sy na bewering met haar wit Toyota Corolla agter teen ’n Land Rover gebots het.

Volgens Daily Mail is Montana vir dronkbestuur en skade aan eiendom aangekeer.

’n Asemtoets op die toneel het gewys haar bloedalkoholvlak is hoër as 1.5. Dit is ver bo die Amerikaanse deelstaat Florida se wettige alkoholperk van 0.08 vir bestuurders.

“Ek het ’n oop bottel wyn (in Montana se motor) links agter op die vloer gesien en die twee voorste sitplekke was bespat met ’n pers vloeistof wat sterk na alkohol geruik het,” skryf een van die beamptes in ’n polisieverslag wat die Daily Mail verkry het. “Verdagte (Montana) het voortdurend rondbeweeg en het onsamehangende stellings gemaak.”

Montana het die nag by die sheriff van die distrik Broward se kantoor deurgebring en is Sondagoggend vrygelaat nadat borg van $2,500 (£2,045) vir haar gestaan is.

Dit is nie die eerste keer dat sy in die nuus beland weens skandalige gedrag nie. In 2010 het Montana met ’n kortstondige loopbaan in die volwasse seksbedryf begin deur in ’n pornografiese rolprent die hoofrol te vertolk.

Montana is Laurence se tweede kind by se eksvrou Hajna O. Moss, van wie hy in 1990 ná ’n huwelik van vyf jaar geskei is. Hy en Hajna is ook die ouers van ’n 30-jarige seun, Langston.

Laurence is in 2002 met die aktrise Gina Torres getroud en hulle het ’n dogter, Delilah, wat in Junie 10 word.

© Cover Media