Die Wes-Kaapse departement van gesondheid het inwoners van Mosselbaai gevra om nie paniekerig te raak nie ná ’n uitbreking van virale meningitis op dié dorp aan die Tuinroete.

[caption id="attachment_116150" align="alignnone" width="600"]Foto ter illustrasie: Pixabay Foto ter illustrasie: Pixabay[/caption]

Breinvliesontsteking is, soos die naam aandui, ontsteking van die brein- of harsingvlies, die membrane wat die brein en rugmurg omhul, en word deur ’n bakteriële of virale infeksie veroorsaak.

Lees ook: Ingewandskoors versprei na Kaap – drie gevalle aangemeld

Marika Champion, woordvoerder van die departement, het Donderdag aan News24 gesê die siekte is tot die Mosselbaai-gebied beperk en word daagliks gemonitor.

“Ek kan bevestig ’n aantal gevalle is aangemeld, maar ons kan nie die getal gevalle gee nie, want dit word nie alles by ons gesondheidsorggeriewe aangemeld nie.”

Eyewitness News het berig minstens nege kinders en ’n volwassene het vermoedelik die siekte opgedoen.

Lees ook: Opgeblaas? Dink net oor jou kos, haal asem en kou baie fyn

Die gevalle is tussen 1 Desember en 24 Januarie aangemeld. Al die pasiënte is suksesvol behandel en geen sterftes is aangemeld nie.

“Dis virale meningitis, nie die dodelike meningitis nie; die meeste van die gevalle word nie eens in die hospitaal opgeneem nie. Daar is op die oomblik geen rede vir paniek nie,” het Marika gesê.

Volgens Health24 is bakteriële meningitis ’n lewensgevaarlike toestand, terwyl virale meningitis, wat algemener voorkom, gewoonlik minder ernstig is.

’n Plaaslike reaksiespan is saamgestel om die verspreiding van die siekte te monitor en bestry. Pasiënte en die mense met wie hulle nabye kontak gehad het, word daagliks getoets en gemonitor.

Simptome

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid sê die simptome kan wissel en met dié van ander siektes oorvleuel. Die algemene tekens en simptome om na uit te kyk, is:

- Koors, hoofpyn, ’n stywe nek, moegheid, sensitiwiteit vir lig

- ’n Uitslag, seer keel en braking kan ook voorkom

Raadpleeg dadelik ’n dokter, kliniek of hospitaal as ’n mens enige tekens van die onderstaande gevaartekens toon:

- bewusteloosheid,

- ’n toeval (stuiptrekkings),

- spierswakheid, of

- ’n uitslag van donker, rooi verkleuring oral oor die lyf.

Hoe kan jy voorkom dat jy besmet word?

Handhigiëne (om jou hande gereeld met seep en water te was) en goeie persoonlike higiëne help voorkom besmetting met baie virusse, onder meer die enterovirus. Die virus versprei deur kontak met besmette stoelgang.

Was jou hande met seep en water nadat jy die toilet besoek het, voor jy kos berei en nadat jy genies of gehoes het.

Volwassenes moet hul kinders leer en aanmoedig om hul hande behoorlik te was en beklemtoon hulle moet gereeld hul hande was wanneer hulle by die skool en in kontak met ander kinders is.

Bron: News24