’n Ou gunsteling met ’n gesonde kinkel – dit is die soort Franse roosterbrood wat die hele gesin kan geniet!

frenchtoast_pic

Maak dit met veselryke volgraanbrood pleks van witbrood, en meng die eier met laevet- of vetvrye melk vir ’n skoot kalsium. Pleks van botter gebruik jy kossproei. Sit die brood voor saam met vrugteskywe of konfyt.

Porsiegrootte vir kleuter: 4 soldaatjies

Jou benodighede:

5 sny lae-GI-brood (sny elkeen in vier repe of “soldaatjies”)

2 eiers

125 ml (½ k) melk

3 ml (½ t) kaneel

15 ml (1 e) botter

10 ml (2 t) heuning

So maak jy

Klits die eiers, melk, kaneel en heuning in ’n vlak houer tot goed gekombineer. Doop elke stukkie brood in die mengsel tot goed bedek. Verhit ’n pan (oor matige hitte) met ’n bietjie botter (of kossproei) en bak 3 min. aan elke kant tot goudbruin en deurgaar. Gewoonlik word Franse roosterbrood met heuning of stroop voorgesit, maar jy kan dit gesonder maak en met vars seisoenale vrugte voorsit.

Inhoud verskaf deur: Anthea de Villiers, geregistreerde dieetkundige (SA)