Is jou kind oorgewig? Jy het dalk geen idee hoe om hulle te help nie, want gewig kan ’n sensitiewe saak wees met kinders, ongeag van hulle ouderdom. Dieetkundiges Ecila du Bruyn en Ilsabé Spoelstra gee ’n gesonde eetplan.

Ontbyt

Kies een van die volgende:

  • 1 k veselryke pap of graankos, byvoorbeeld hawermout of All-Bran, of ½ k volgraan-ProNutro of muesli met ’n lae GI. Voeg genoeg laevetmelk of jogurt by om dit te kan geniet; moenie dit afmeet nie. Eet enige vrug hiermee saam.

OF

  • As jou kind nie van graankos hou nie, vervang dit met 1-2 snye growwe brood met ’n lae GI. Pleks van margarien, smeer ’n ligte smeer soos Miracle Whip, laevetmaaskaas of laevetroomkaas op. Hiermee saam kan hy ’n eier of gerasperde kaas eet met iets vars daarby, soos ’n vrug of tamatie.

Middagete

Sommige kos is beter vir naweke by die huis en ander is meer geskik vir kosblikke.

  • 1-2 snye bruin-/volgraan-/saadbrood met ’n lae GI
  • OF 4-8 Pro-Vitas/Ryvitas
  • OF ’n groot groenmielie

  • 2 e laevetkaas/maer biltong

  • OF 1 gekookte eier of roereier op die brood

  • OF 1 skyf suiwer kouevleis of 2 e vis soos tuna, sardyn, makriel, salm of hoender

  • ½-1 k slaai of enige rou groente soos kersietamaties, klein wortels, komkommers of groentesop wanneer dit koud is. As meer as een slaai voorgesit word, byvoorbeeld mengelslaai en beet, is veral ’n kind geneig om meer groente te eet. Dis die doelwit, want wanneer hy meer groente eet, kry hy minder kilojouleryke kos in, maar steeds ’n groot hoeveelheid kos.

Aandete

  • ’n Porsie maer vleis of vis of hoender sonder vel. ’n Porsie is so groot soos ’n kind se oop hand.
  • 1 aartappel OF ’n porsie volgraanpasta/bruinrys/ patats/mielies/koring of enige ander gesonde, veselryke stysel
  • 1 porsie (1-2 k) groente, so ’n groot verskeidenheid moontlik, maar groente kan onbeperk geëet word

Tussenin

Eet een van die volgende soggens en een smiddae:

  • 1 vars vrug of 3-4 droëvrugte
  • ½ k gegeurde laevetjogurt
  •  ’n stysel, byvoorbeeld 1 sny growwe brood met ’n lae GI OF ’n growwe muffin OF 4 Pro-Vitas
  • 2 e laevetkaas (laevet indien beskikbaar) OF 2 e maer biltong OF ’n sny suiwer kouevleis (byvoorbeeld enige tuisgemaakte kouevleis, soos oorskiet van die vorige dag, nie kommersiële, verwerkte vleis nie)

Na gelang van die kind se metabolisme en hoe aktief sy is, kan sy twee tot drie opsies geniet. Hoe meer aktief kinders is, hoe meer moet hulle eet.

’n Bederfie oor naweke

  • Vars vrugte. Droë- en geblikte vrugte is beter as geen vrugte nie.
  • Vervang gerus naweke die ½ k jogurt met laevetvla.
  • ’n Happiegroot lekkerny soos ’n sjokoladetjie of ’n skep roomys op ’n Saterdag en Sondag.

Onthou

  • Kinders moet sap net by uitsondering drink, want een glas sap bevat gemiddeld drie vrugte.
  • Vermy gegeurde water. Leer kinders water drink of meng sap en water om die helfte. Bederf jou kinders net naweke met koeldrank of sap.

Wenke

  • Smeer brood dun met ligte smeer, soos Canola Light-margarien of Miracle Whip Light.
  • Gebruik veral gesonde vette wat ook meer volume het as ’n smeersel botter of margarien op brood, naamlik avokado, neute en grondboontjiebotter.
  • Gebruik goeie olie soos Vergezocht se HO-sonneblomolie. Dis ’n taamlik nuwe Suid-Afrikaanse produk, vervaardig van ’n spesiale sonneblom wat baie omega-9 bevat. Dit kan 35 uur kook voor dit begin afbreek en ongewens raak. Dis nog nie oral beskikbaar nie, maar die grootste supermarket begin dit deesdae aanhou. Gebruik die olie matig vir gaarmaak soos roerbraai, vir jou eie oondskyfies maak of eiers bak. Olyfolie kan gebruik word vir slaaisous, maar in klein hoeveelhede.
  • Moenie die eetplan instel vir die oorgewig kind en die skraal kind laat eet wat hy wil nie, veral wat lekkernye betref. Almal moet gesond eet en goeie gewoontes aanleer.
  • Wanneer kinders gegeurde pap eet, meng dit met gesonde graanpap. Gebruik elke keer ’n bietjie meer gesonde graankos en minder van die res sodat jou kind se oog en tong aan die gesonde kos gewoond raak.
  • Rooster of roerbraai vleis liggies in druppels HO olie of sit dit voor in byvoorbeeld ’n kasserolgereg soos ’n bredie. Gebruik tamatiesous, ’n ligte mayonnaise of blatjang, vars kruie, speserye. Ina Paarman-souse of –soppoeiers is ook goed, want dit bevat geen ongewenste preserveermiddels nie.

- Ecila du Bruyn en Ilsabé