Sy loer kort-kort na haar blondekop-knapie van ’n jaar oud wat ’n entjie van haar af in die tuin speel. Hoe lank sal sy nog die voorreg hê om hom so te sien speel?

Op die tafel voor haar lê haar selfoon. As dit lui, gryp sy dit dadelik. Die foon word nooit afgeskakel nie, want enige tyd kan die oproep kom wat klein Lian Marais van ’n seker dood kan red.

Hy het twee keer reeds weens hartversaking by die rand van die dood omgedraai. Die dokters sê nou die skade aan sy hart is so ernstig dat hy nie ouer as twee jaar sal word nie, tensy hy ’n hartoorplanting kry...

As dit gebeur, sal Lian geskiedenis maak as die jongste mens wat nog in Suid-Afrika ’n skenkerhart ontvang het.

Nou lewe sy ouers, Ruan (24) en Lee-Anne (22) van Pretoria, van dag tot dag vir dáárdie oproep met die nuus van die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad dat ’n skenkerhart beskikbaar is.

Dit kan môre gebeur – of dalk nooit.

Lees die volledige artikel in die 1 April-uitgawe van Huisgenoot.

Bespreek vir Skouspel!

Lian het gister, 29 Maart, gesterf. Hy is Saterdagaand weer in die hospitaal opgeneem, en het gisteroggend in ‘n toestand van hartversaking ingegaan waaruit die dokters hom nie kon kry nie. Teen 16:20 het hy ‘n massiewe hartaanval gekry en gesterf. Sy ouers was die hele tyd saam met hom en by hom in sy sterwens-uur.

Indien hy ‘n hartoorplanting kon kry, sou sy lewe gered gewees het - maar daar was geen skenkersharte beskikbaar nie.

Huisgenoot se gebede is met sy ouers en naasbestaandes.

Om jou as orgaanskenker te laat registreer en dalk so 'n lewe te red, bel die Orgaanskenkingstigting tolvry by 0800-22-66-11 of stuur 'n e-pos aan info@organdonor.org.za. Of besoek die webtuiste http://www.odf.org.za/