IS JOU ware liefdesverhaal so mooi dat jy wens iemand wil ’n fliek daarvan maak?

HG 1020 fliek

Dan kan jou wens nou waar word, want Huisgenoot gaan ’n fliek maak! Ja, ons gaan silwerdoek toe as deel van ons eeufeesviering. Kan jy glo, op 20 Mei 2016 is Huisgenoot 100 jaar oud? Met ’n eietydse romantiese komedie vol lief, leed, naelbyt- en skaterlag-oomblikke wil ons wys ons is eintlik 100 jaar jonk!

Die fliek waarmee ons die grootste mylpaal nog in die geskiedenis van die oudste en grootste Afrikaanse tydskrif in die land wil vier, gaan nie sommer enige storie vertel nie  – dit kan jou storie wees. Huisgenoot, in samewerking met kykNET, wil nie ’n bekende se liefdesverhaal vertel nie; ons wil jou, die gewone leser, se ware liefdesverhaal vertel.

As jy nog altyd daarvan gedroom het om jou eie storie op die silwerdoek te sien, is dit nou jou groot kans. Skryf en vertel ons van jou liefdesverhaal, want ons Huisgenoot-fliek kan daarop gegrond word. Jou verhaal moet natuurlik gelukkig eindig, die held en heldin moet mekaar vind en daar moet soos in enige verhouding konflik wees. En getrou aan die genre, sal dit jou ’n groot voorsprong gee as werklike snaakse dinge met julle as paartjie gebeur het.

Die sluitingsdatum vir Huisgenoot se groot liefdesverhaalkompetisie is Valentynsdag,  14 Februarie aanstaande jaar. ’n Paneel van kykNET en Huisgenoot sal al die verhale beoordeel en die een met die meeste potensiaal kies.

Dit sal dan as basis vir die fliek se draaiboek dien en deur professionele draaiboekskrywers verwerk en aangepas word. Buiten die kans dat jou storie in ’n fliek omskep kan word, is nog pryse op die spel. Om jou jou liefdesverhaal te help skryf het ons by kykNET gaan kers opsteek oor hoe om ’n romantiese komedie te benader. (Lees die riglyne vir so ’n komedie hierby.)

Onthou, dit moes werklik met jou gebeur het. Vertel jou verhaal in 3 000 woorde en stuur dit teen 14 Februarie 2015 na HG100fliek@huisgenoot.com.

HOE OM ’N ROMANTIESE KOMEDIE TE SKRYF

DIE ELEMENTE

-        Die held of heldin moet ’n romantiese doelwit nastreef. Die kykers moet met die hoofkarakters kan identifiseer. “Hul doelwitte en begeertes moet vir die kyker boeiend en ooglopend wees,” sê Anneke Villet van kykNET. “In ’n romantiese komedie is die karakters se begeerte baie spesifiek. ’n Karakter moet desperaat die liefde van ’n ander karakter wil wen. In My Best Friend’s Wedding probeer Julia Roberts se karakter byvoorbeeld haar beste vriend se hart verower. En in As Good As It Gets wil Jack Nicholson se karakter, ’n nukkerige skrywer, die kelnerin se liefde wen,” verduidelik sy verder. “Die held en heldin kom altyd op die ou end tot hul sinne en besef hul aangetrokkenheid tot mekaar is wedersyds.”

-        Die held moet ook nog ’n ander begeerte nastreef. As die held en heldin terselfdertyd verskillende doelwitte nastreef, maak dit die storie oorspronklik en versnel die pas daarvan. “As die twee hoofkarakters se onderskeie doelwitte strydig is met mekaar, word die konflik versterk en behou dit die gehoor se belangstelling,” sê Anneke. In die Afrikaanse romantiese komedie Semi-soet probeer Anel Alexander se karakter byvoorbeeld ’n groot kontrak losslaan, terwyl Nico Panagio se karakter die advertensieagentskap waarvoor sy werk se ondergang probeer bewerkstellig om sy eie sakebelange uit te brei.

-        Die karakter in ’n romantiese komedie dink nooit hul situasie is humoristies nie. “Wanneer mense op die skerm lag, sal die gehoor nie lag nie,” sê Anneke. “Die dryfvere in romantiese komedies is pyn en verlies. Die humor ontstaan as die karakters oorreageer op die situasies. Hulle beraam belaglike planne, neem vals identiteite aan en vertel enorme leuens.” - \

-        Romantiese komedies het ’n gelukkige einde. Dis net in uitsonderlike romantiese komedies dat die held nie die meisie se hart wen nie.

-        Romantiese komedies bevat altyd misleiding en leuens. Die held gee voor hy is iemand wat hy nie is nie, soos in Mrs. Doubtfire, Miss Congeniality, Coming to America, Tootsie en The Birdcage, of hy lieg vir sy geliefde oor sy alter ego, sy werk, sy gevoelens, sy bedoelings – dit alles in ’n poging om ’n verhouding met haar aan te knoop of dit ’n hupstoot te gee.  “Dié oneerlikheid is nie net noodsaaklik om die konflik te versterk nie, maar ook om die karakters te dwing om hul eie oneerlikheid te konfronteer. Net as hulle die waarheid omtrent hulself aanvaar, sal hulle kan groei en verander,” sê Anneke.

DIE KARAKTERS

Om die hart van die gehoor te wen moet die karakters oor sekere eienskappe beskik. Anneke verduidelik wat dit is:

-        Die gehoor moet verlief raak op die karakters. “Ons moet met hulle en hul begeerte kan identifiseer om die ander karakter se hart te wen. Anders verloor ons belangstelling en simpatie.”

-        Die gehoor moet wil hê die hoofkarakter moet die ander een se liefde wen. “Jy moet die gehoor oortuig die hoofkarakter verdien dat sy/haar begeerte vervul word. Teen die einde van die storie moet jou gehoor die karakters saam in die rigting van die sonsondergang wil sien wegstap.”

-        Onoorkombare hindernisse moet die karakters van mekaar skei. “Jou held of heldin moet ’n groot uitdaging of uitdagings oorkom. Anders sal jou storie nie boeiend wees nie.”

-        Die romanse in die verhaal moet verweef word met die karakters se ander doelwitte. In die suksesvolle romantiese komedie Pad na Jou Hart is Ivan Botha en Donnalee Roberts se karakters elkeen op hul eie sending. Dan kruis hul paaie. Jou karakter moet ’n doelwit hê. Ivan se karakter soek byvoorbeeld ’n geleentheid uit Johannesburg Kaap toe en Donnalee moet om mediese redes Kaap toe gaan. Voeg daarby ’n begeerte (Ivan se karakter moet by sy pa se begrafnis wees om sy erfporsie te kry) en ook ’n situasie (hy beland saam met ’n eksentrieke, vrygeestige meisie in ’n motor). Die doelwit, wat los staan van die liefdesintrige, moet iewers daarmee kruis. Donnalee se karakter gee Ivan s’n byvoorbeeld ’’n saamrygeleentheid Kaap toe. Hulle beland in allerhande situasies en raak op die ou end verlief.

DIE STRUKTUUR

Jou romantiese komedie behoort dieselfde sesfase-struktuur te volg as soortgelyke Hollywood-flieks, sê Anneke.

-        Stel jou karakter aan die kykers voor. Die gehoor identifiseer instinktief met die eerste karakters wat op die skerm verskyn.

-        Wys die eerste ontmoeting tussen die held en heldin. Dis daardie oomblik van halsoorkop verlief raak wat jou gehoor se aandag op jou storie gaan vestig.

-        Moenie die karakter op wie die hoofkarakter verlief raak later as die begin van die tweede bedryf aan die gehoor voorstel nie. In ’n suksesvolle romantiese komedie word die liefdesintrige in die eerste kwart van die storie bekend – in die eerste 750 woorde in ’n storie van 3 000 woorde.

-        Teen die middel van die verhaal moet die held hom-/haarself op die verhouding toespits en dit hul hoofdoelwit maak. Ná sowat 1 500 woorde moet jou karakter iets doen wat aandui van hier af is daar geen omdraaikans nie.

-        Gebruik dramatiese ironie. Laat jou gehoor toe om dinge uit te vind voor jou karakters dit uitvind. Hierdie kennis skep afwagting oor wat gaan gebeur as die “geheim” uitgelap word.

-        Die verhouding word teen die 75-persentmerk beëindig. In Hollywood-rolprente ervaar die held teen die einde van die tweede bedryf (teen 2 250 woorde van jou verhaal van 3 000 woorde) ’n groot terugslag. In die romantiese komedie is dit wanneer die verhouding in duie stort, gewoonlik omdat die oneerlikheid aan die lig gekom het.

-        Laat jou held en heldin in die klimaks van jou storie versoen raak. Hulle moet tot hul sinne kom en besef hulle hoort bymekaar sodat jou gehoor die bevrediging van ’n gelukkige einde kan smaak.

-        Romantiese komedies se grootste tema bly die spanning tussen gemak en versugting en tussen vrees en begeerte. Ons is almal vreesbevange vir intimiteit,pyn en verlies; daarom wil ons ons eerderop die een of ander manier emosioneelafsluit. Die bekoring van ’n romantiesekomedie lê daarin dat ons sowat twee uurin die donker met ’n held/heldin kan identifiseerwat dieselfdenimmereindigendestryd deurmaak

WEN! Benewens die kans dat jou storie in ’n fliek omskep kan word, is kontantpryse van altesaam R7 000 op die spel. Die wenners van die eerste, tweede en derde prys sal elk ’n Olympus TG-835 kompakte digitale kamera van R4 500 kry. Dit is gehard genoeg om uiterse temperature, stof en vogtigheid te weerstaan. Dit is ideaal vir aksiefoto’s en -video’s, maar ook vir wyehoek-landskapstonele. Die wenner van die eerste prys sal ook R5 000 kontant losslaan, die naaswenner R3 000 en die wenner van die derde prys R2 000.