Kersvader kan vanjaar as ’n seksis gedoop word wanneer hy poppe en teestelle aan dogtertjies uitdeel en speelgoedmotortjies en -geweertjies aan seuntjies gee.

’n Hewige debat oor geslagspesifieke speelgoed woed tans in Australië. Selfs die eerste minister, Tony Abbott, het ’n eiertjie gelê toe hy sê seuns moet seuns wees en meisies moet meisies wees.

’n Australiese senator, Larissa Waters, het ’n beroep vir ’n “Geslaglose Desember” ondersteun en ouers het hulle verbind tot “geen geslagstereotipes onder hul kersboom nie”.

Die groep beweer afsonderlike afdelings in speelgoedwinkels en stereotipes in advertensies bevorder geslagsongelykheid.

Die debat het selfs na Suid-Afrika oorgespoel.

’n Woordvoerder vir die Suid-Afrikaanse Kommissie vir Geslagsgelykheid, Javu Baloyi, het gister gesê die versoek vir ’n Geslaglose Desember het ’n debat aangewakker om weg te beweeg van “geslagsrolle en ’n stereotipiese mentaliteit”.

“As ’n kommissie glo ons seuns en meisies word tans so grootgemaak dat stereotipes voortbestaan. "Ons moet speelgoed koop wat albei geslagte stimuleer en hulle toelaat om mekaar as gelykes te sien."

'Ons moet speelgoed koop wat albei geslagte stimuleer en hulle toelaat om mekaar as gelykes te sien.'

Fatima Adam, ’n opvoedkundige sielkundige van Gauteng, sê ouers is geregtig om speelgoed vir hul kinders te koop wat aan hul behoeftes voldoen, ongeag van hul geslag.

“As ’n dogtertjie ’n speelgoed-vragmotor wil hê, waarom nie? Kinders moet van jongs af van geslagsgelykheid geleer word. Dit moet veral gebeur terwyl kinders speel, aangesien dit so ’n belangrike deel van grootword is,” sê Fatima.

“As jy ’n seuntjie toelaat om met ’n teestel te speel – en ek weet dit stuit die samelewing teen die bors – is dit eintlik gesond, want hy leer vaardighede aan.”

Maar speelgoedwinkels kategoriseer speelgoed volgens geslag.

Bron: Times LIVE