Marty Reddering het aan die Weekend Argus vertel hoe sy seun, Dylan (23), ’n ywerige branderplankryer, die aanval deur ’n drie-meter lange Witdoodshaai oorleef het.

Die jong student van die Universiteit van Kaapstad het gelukkig ontsnap met slegs skeur- en bytmerke aan die regterkant van sy liggaam, aan sy ribbe, sitvlak, rug en been.

Volgens Reddering het die 23-jarige man daarin geslaag om die haai van hom weg te skop en te slaan, maar is in ‘n sleurstroom vasgevang toe hy probeer het om na die strand te swem.

News24 berig dat dié insident ’n dag voor ‘n tweede haai-aanval Saterdag, die keer by Buffelsbaai plaasgevind het. In hierdie aanval het ’n 19-jarige branderplankryer sy regterbeen verloor.

Declan Nurse, adjunk-stasiebevelvoerder by die NSRI op Knysna, het in ’n verklaring gesê Caleb Swanepoel (oorspronklik van Prins Albert), is ongeveer 14:40 deur mede-branderplankryers uit die water gered.

“ ’n Plaaslike dokter, dr. Ree Richmond, wat toevallig saam met haar man op die toneel was toe die ongeluk gebeur het, het mediese noodbehandeling begin toepas op Swanepoel, ook ’n student aan die Universiteit van Kaapstad,” het hy gesê.

Bron: News24