Die 15-jarige Deahvion Austin se ma het haar Maandag as vermis aangemeld nadat sy nie die Sondagaand van die winkel af terug huis toe gekom het nie.

Maar ure later het haar oom haar in ’n grafiese Facebook Live-video gesien waarop ses seuns haar skynbaar seksueel aanrand.

Volgens BuzzFeed News het Deahvion se oom haar ma vinnig in kennis gestel van wat hy gesien het. Sy het dadelik vir die polisie skermgrepe van die video gewys.

Die polisie sê skokkend genoeg het geen van die 40 mense wat die Facebook-video gekyk het, die saak by hulle aangemeld nie. Die polisie het Deahvion blykbaar Dinsdagoggend gekry waar sy in ’n straat naby haar huis stap. Sy is dadelik na haar ma by die huis geneem en toe na ’n hospitaal vir behandeling.  

Die video is afgehaal nadat die polisie die sosiale netwerk gekontak het.

Facebook het later ’n verklaring oor die voorval uitgereik: “Ons beskou ons verantwoordelikheid om mense op Facebook veilig te hou as baie ernstig en sal video’s verwyder wat seksuele aanranding uitbeeld en gedeel word om geweld te verheerlik,” het die maatskappy se woordvoerder gesê. Facebook moedig gebruikers aan om ’n opsie te gebruik om oortredings van inhoudstandaarde tydens regstreekse stroomsessies aan te meld, en moedig die publiek ook aan om die polisie te kontak as ’n situasie dringend lyk. Volgens Anthony Guglielmi, woordvoerder van die polisie van Chicago, ondervra hulle Deahvion en identifiseer nog die verdagtes.  

Bronne: Buzzfeed, Fox News