Die 36-jarige vrou van die Amerikaanse deelstaat Florida was op daardie tydstip “eintlik haweloos”. Sy het in ’n woonwapark gewoon en die kind se pa was nie meer betrokke nie.

Sy was ook reeds die ma van ’n 18-jarige dogter en het nie kans gesien om “weer te begin” nie. Nadat sy al die faktore opgeweeg het, het sy besluit om haar baba te laat aanneem.

Christina was in haar noppies toe sy ’n geskikte gesin in die deelstaat Georgia kry. Met verloop van die swangerskap het sy gereeld kontak met hulle gemaak en het sy selfs vir hulle ultraklankfoto’s gestuur.

Maar by klein Abigail Lynn se geboorte het die aanneming deur die mat geval.

“Ek het (die aanneemma) toegelaat om die babasaal met die ander polsbandjie binne te gaan,” het Christina aan die Northwest Florida Daily News vertel.

“Sy het huilend daar uitgekom en die hospitaal verlaat. Ons het nooit weer iets van hulle gehoor nie.”

Dokters het ná ’n klompie toetse bevind Abigail is gebore met Treacher Collins, ’n seldsame genetiese afwyking wat die ontwikkeling van bene en gesigsweefsel affekteer. Dit kan veroorsaak dat sommige dele van haar gesig onderontwikkel sal wees.

Die siekte kon nie op voorgeboortelike skanderings gesien word nie. “Niks is opgemerk nie,” het Christina gesê. “Hulle het net vir my gesê haar ore lyk aan die klein kant.”

Christina beskou die aanneemma se reaksie as “’n teken sy moet myne wees.”

“En nou is sy my hart. Ek kan my nie my lewe sonder haar voorstel nie.”

Die ma van Florida het sedertdien ’n geldinsameling begin op die webtuiste vir skarefinansiering GoFundMe.

Die beskrywing op die bladsy lui: “Die geld sal gebruik word om babaklere, doeke, klam lappies, ens. mee te koop.” Sy het reeds amper R170 000 ingesamel.

Bronne: people.com, nwfdailynews.com, telegraph.co.uk

Lees ook op Huisgenoot.com:

Mamma Mia! Abba-aanhangers sal hiervan hou

Liefde by die Dam: Francois van Coke kan skaars wag

Terreurwaarskuwings: Só skerp inkopiesentrums in Kaapstad, Johannesburg veiligheidsmaatreëls op

Bisarre foto’s en video’s: So versorg ’n mens jou hare en naels in die ruimte . . .

Polisie se skokontdekking by Kaapse kleuterskool