Netwerk24 berig die amper 90 jaar oue kerkgebou in Wes-Burgerstraat is in 2012 aan die Nic Georgiou-trust verkoop nadat die gemeente se lidmaattal tot net 64 gedaal het.

“Dit is ’n skok. Breek hulle hom dan nou regtig af?” het ds. Piet Lourens, die gemeente se laaste predikant, aan Volksblad gesê.

Lourens, wat 13 jaar by die gemeente betrokke was, meen daar is nie meer plek vir die Gereformeerde Kerk se bediening in die middestad nie. “Die Tweetoringkerk vervul die rol reeds en doen uitstekende werk.”

Die inhoud van die kerk is met ander kerke gedeel toe dit drie jaar gelede verkoop is. Die Gereformeerde kerk Oranjerivier op Orania het die pyporrel en die klok gekry en die Eden-kerk (Keurboomsrivier en Knysna) het die preekstoel en ronde Nagmaaltafels oorgeneem. Die kerkbanke en ander tafels is tussen dié kerk, asook kerke in Botshabelo en Phahameng, verdeel. Die hoekstene het na die Bloempark-kerk in Fichardtpark gegaan en die boekery word nou in die Gereformeerde Kerk se argief in Potchefstroom bewaar. Lourens sê dit is vir hom bitter sleg dat die kerk platgeslaan word, maar ’n mens moet positief oor die ontwikkeling in die stad wees. “As dit nie vir die Griek (Georgiou) was nie, was die stad in ’n chaos. Dit is vir my sleg, maar ek het juis verlede week in ’n foto gesien die vensterruite word baie mooi uitgehaal.”

'Ons moet onthou die kerk was nie die gemeente nie, maar net die gebou.'

“Ons moet onthou die kerk was nie die gemeente nie, maar net die gebou. Die lewe gaan altyd voort en ontwikkeling is onvermydelik,” sê Lourens.

Die Gereformeerde kerk Bloemfontein was die oudste Doppergemeente in die Rosestad en is in 1903 gestig. Die eerste predikant, ds. Willem Postma, was ’n bekende Afrikaanse taalstryder en skrywer onder die skuilnaam dr. O’kulis.

Die argitekte van die kerk wat in 1927 opgerig is en nou afgebreek word, was Wynand Louw, die eerste Afrikaanse argitek, en Gerard Moerdijk, wat ook die Voortrekkermonument ontwerp het.

Bron: Netwerk24