Die moderne lewe is gejaagd en vol botsende roosters; dit kan dus moeilik wees om almal gelyk langs die tafel te kry om ’n ete te geniet. Maar navorsers het nou bevind ’n gesinsete is dalk die sleutel tot gelukkiger tieners en goeie geestesgesondheid.

Volgens ’n Kanadese studie kan die ondersteuning en kommunikasie wat tieners uit ’n ete saam met geliefdes kry, doeltreffend wees in die hantering van aanlyn boelies.

Aanlyn boelies is ’n groot probleem; die Britse nasionale vereniging vir die voorkoming van wreedheid teenoor kinders bevind 38 persent van jongmense in die Verenigde Koninkryk is verlede jaar daardeur geraak.

Vir die navorsing, wat in die joernaal JAMA Pediatrics gepubliseer is, is meer as 20 000 jongmense  bestudeer en die blootstelling tot aanlyn en persoonlike boelies is gemeet. Tieners is ook gevra oor geestesgesondheidskwessies, insluitend depressie, selfskending, selfdoodgedagtes en -pogings, asook angs. Hulle is toe gevra hoe gereeld hulle met hul gesin eet.

Jongmense wat aanlyn geboelie is, is tussen 2,6 en 4,5 keer meer geneig om met emosionele, gedrags- en middelmisbruikprobleme te sukkel as dié wat op ander maniere geboelie word. Dié probleme is algemeen onder tieners wat weinig gesinsetes het, want die navorsers glo hul vlakke van kontak en kommunikasie is dus minder, en hulle het minder van ’n kans om die negatiewe uitwerking van kuberboelies te verminder.

“ ’n Vyfde van tieners word aanlyn geboelie,” sê Frank Elgar, ’n dosent aan die departement psigiatrie by die McGill-universiteit se mediese fakulteit in Kanada.

“Baie jongmense gebruik sosiale media, en aanlyn teistering en mishandeling is moeilik vir ouers en opvoeders om te monitor; dit is dus krities dat hulle beskermingsfaktore identifiseer vir jeugdiges wat aan kuberboelies blootgestel word.”

Maar hy het ook bygevoeg die navorsing moenie vereenvoudig word nie. Net soos gesinsetes nie ’n kitsoplossing is nie, kan tieners wat nie gesinsetes het nie elders ondersteuning van hul ouers vind, soos wanneer hulle op pad skool toe is of tydens ontbyt.

“Om tred te hou van tieners en hul aanlyn lewe kan hulle die hulpbronne gee om aanlyn teistering of geboelie te bestuur, wat maklik onopgespoor kan gaan,” het hy bygevoeg.

© Cover Media