Twee leerders op pad terug skool toe ná die vakansie by Disneyworld het saam met hul ouers gesterf toe hul vliegtuig neergestort het.

Volgens berigte het die Cessna T210L Saterdag tydens die vlug in stukke gespat voor dit neus eerste die grond getref het. Dit wil voorkom asof die vliegtuig se vlerke van die romp afgeskeur het.

Die vliegtuig was van Florida op pad na Jackson, Tennessee, waar die kinders skoolgegaan het.

Die oorledenes se name is intussen bekend gemaak. Hulle is Joseph (45) en Jennifer Crenshaw (43), hul 16-jarige seun, Jacob, en 14-jarige dogter, Jillian. Die vliegtuig het aan Joseph behoort.

Een van Hayden – waar die ligte vliegtuig geval het – se inwoners het gesê hy het geweet iets skort toe hy die naderende vliegtuig se enjin hoor. “Dit het geklink soos die klassieke geluide wat kinders maak wanneer hulle ’n vliegtuig naboots. Ek het nie geweet dit was (regtig) ’n vliegtuig nie,” het Josh Phillips gesê.

’n Deel van die vliegtuig se stert het in sy bure se agterplaas beland terwyl ’n deel van een van die deure in ’n woud daar naby gevind is.

Brittany Reno het aan WKRN beskryf hoe sy die vliegtuig sien tol het voor dit neus eerste grondwaarts geduik het. “Die vlerk het bo-oor ons gekom en die wind het dit tot in die veld gedra.”

Die oorsaak van die ramp word nog ondersoek.