Scott Danemiller en sy vrou, Gabby, wou graag ’n jaar lank konsentreer op dit wat regtig belangrik is, soos vriendskappe en gehaltetyd saam met hul gesin. Daarom het hulle besluit om ’n hele jaar lank geen nieverbruikersgoedere te koop nie.

Hulle het dit Die Jaar Sonder Aankope genoem, verduidelik Scott op sy blog. Die reëls was eenvoudig: “Moenie “goeters” koop nie.

Scott, ’n skrywer, blogger en aanbiddingsleier van die Amerikaanse deelstaat Tennessee, verduidelik hulle het in 2013 net goed gekoop wat hulle kon opgebruik, soos kruideniersware en petrol.

Dit beteken geen klere, speelgoed vir hul kinders, huishoudelike items of enigiets anders wat nie binne ’n jaar opgebruik kon word nie. Hul geskenke was skenkings aan liefdadigheid of ervarings, soos om te gaan uiteet of die dieretuin te besoek.

En die grootste geheim? Scott en Gabby het hul twee kinders, Jake en Audrey, nie van die uitdaging vertel nie.

“Ons was nie heeltemal suksesvol nie,” skryf Scott. “Ons het ’n nuwe paar skoene vir Jake gekoop. Ons het ’n stofsuier gekoop. Ons het vir Audrey ’n swembril gekoop nadat sy haar swemtoets geslaag het.”

En op Kersdag het Kersvader die reëls heeltemal oortree deur vir die kinders elk drie geskenke te gee.

Hoe het hulle dit reggekry met twee kinders in die huis? wonder jy dalk. Toe Scott en Gabby aan die einde van die jaar hul kinders daaroor uitvra, het die kinders niks agtergekom nie.

Scott skryf nou ’n boek oor die gesin se ervaring.

In dié video gesels Scott en Gabby oor die jaar: