Moses Dlamini, nasionale woordvoerder van die onafhanklike polisie-ondersoekeenheid, wou nie die oorledene se naam bekendmaak nie. Hy was betrokke by die Silver Creek-deel van dié landgoed.

Volgens Dlamini word die man se dood deur dié eenheid ondersoek “omdat die moontlikheid bestaan dat hy deur ’n polisielid doodgeskiet is, maar in dié stadium is niks nog definitief nie”.

In die vroeë oggendure van Woensdag het polisielede buite die landgoed gepatrolleer toe hulle hoor daar is vermeende oortreders op die landgoed, sê Dlamini.

“Toe die polisie die landgoed binnegaan, het hulle die vermeende oortreders gesien. Dié het op hulle begin skiet, en die polisie het teruggeskiet. Die vermeende oortreders het weggehardloop,” sê Dlamini.

“Die polisie het die mans begin soek.”

Volgens Dlamini het drie mans voor die skietery na hulle aangestap gekom. Ná die skietery was daar net twee mans.

“Die polisie het ’n bloedspoor gevolg en op die man afgekom waar hy ineengesak het. Hy is op die toneel dood verklaar.”

Krugersdorp News berig die man het verskeie skote in die bolyf gehad.

Dlamini sê hulle sal ook ondersoek wie vir die man se dood verantwoordelik is.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.