Geselsies oor ditjies en datjies terwyl jy jou huistake verrig, kan jou kind se ontwikkeling ’n hupstoot gee, selfs meer as om vir hom voor te lees, volgens ’n nuwe studie.

Navorsing deur die Instituut vir Ekonomiese en Maatskaplike Navorsing (ESRI) en die Universiteit van Limerick in Ierland het gekyk na watter uitwerking lees met slaaptyd op 7 845 kinders van nege maande het. Sowat 94 persent van die kinders het gewoonlik na prentjies gekyk, daar is aan 80 persent voorgelees en twee derdes se ma het gereeld met hulle gesels.

Daar is in die studie bevind dat gesels vier keer beter is vir jou kind se kommunikasievaardighede en drie keer beter is om hulle met probleemoplossingsvaardighede te help as lees of na prente kyk.

Die resultate was verbasend en navorsers ondersoek nou watter langtermyn-uitwerking lees en praat op kinders tot op drie jaar het. Dit beteken nie jy moet jou kinders se storieboeke wegpak nie. Daar is in die studie bevind lees het ’n “goeie invloed” op probleemoplossing en kommunikasievaardighede. En as jy nie meer weet waaroor om met jou kleinding te praat nie, kan ’n boek nogal welkome verligting bied.

- Petro-Anne Vlok

BRONNE: esri.ie, dailymail.co.uk, thesundaytimes.co.uk