oscar

“Enige insinuasie dat die departement ’n sel voorberei het vir iemand wat nog nie tronkstraf opgelê is nie, is sowel kwaadwillig as onverantwoordelik,” het die woordvoerder Mthunzi Mhaga gesê.

Eye Witness News (EWN) het berig ’n sel is reeds vir Oscar in die tronk voorberei in die dieselfde afdeling wat die Tsjeggiese voortvlugtige Radovan Krejcir gehuisves het.

Die uitsaaier het gesê hulle het by ’n beampte van korrektiewe dienste gehoor dat die seksie die veiligste bewaakte afdeling buite die maksimumsekuriteitsafdeling van die gevangenis is.

Volgens EWN het die afdeling het ses enkelselle en Radovan is die enigste ander gevangene daar, want hy word as ? hoë sekuriteitsrisiko beskou.

Die beampte het na bewering gesê die gevangenis se spesiale taakspan hou toesig oor die afdeling en toegang word streng beheer.

Mthunzi het gesê Oscar is nog nie gevonnis nie en het gevra hoe enigeen kan beweer ’n sel is voorberei.

“Daardie beampte sal die gepaste gevolge ly.”

Die hooggeregshof in Pretoria het Vrydag tydens slotbetoë gehoor dat Oscar óf 10 jaar tronkstraf óf korrektiewe toesig en gemeenskapsdiens opgelê moet word.

Hy sal Dinsdag gevonnis word.

Op 12 September is Oscar skuldig bevind aan die strafbare manslag van sy meisie, die model en regsgeleerde Reeva Steenkamp, maar nie van haar moord nie. Hy het haar op Valentynsdag verlede jaar in sy huis in Pretoria geskiet.

- Sapa