Huisgenoot se Facebookblad is gisteraand oorval met boodskappe van bekommerde lesers nadat gerugte versprei is dat die oud-Springbok-kaptein Joost van der Westhuizen glo gesterf het.

Die gerugte is glo via ‘n BBM-boodskap versprei en het beweer dat Joost Dinsdagaand omstreeks 17:45 gesterf het.

Die bekende rugbyspeler is met motorneuronsiekte (MNS) gediagnoseer en het Sondagaand nog op die joernaalprogram, Carte Blanche, verskyn waar hy oor sy siekte en sy J9-liefdadigheidsorganisasie gesels het.

Die J9-stigting het gisteraand bevestig dat die bewerings oor Joost se afsterwe onwaar is. “Hy is by die huis en geniet ‘n rustige aand,” het op die groep se Facebookblad gestaan.

“Alive and kicking folks! Ignore the rumours,” het Joost glo self via sy Twitterblad getwiet.

Teen Woensdagoggend het die gerugte egter steeds nie gaan lê nie.

Huisgenoot het self vanoggend met Joost oor die telefoon gesels en kan bevestig dat hy piekfyn is en dat die BBM-gerugte onwaar is