Boonop voer sy aan daar was ook ’n jonger man, ene Tim, betrokke wat haar vermoedelik vir Gert se seksring wou werf.

Ek weet dit was verkeerd, maar hy het daarop aangedring dat ek saam met hom ry.

Die 51-jarige vrou het soos volg aan die KwaZulu-Natalse gemeenskapskoerant South Coast Herald geskryf:

Dit was 1976, en ek was 12 jaar oud en het in Durban-Noord gewoon. Ek het by ’n maatjie se huis gaan speel waar ’n man genaamd Tim vir my vriendin se pa by dié se loodgietersonderneming gewerk het.

Ek was net op pad om terug huis toe te stap toe Tim aanbied om my ’n geleentheid huis toe te gee. Ek het dit aanvaar, want hy was iemand wat ek geken en verskeie kere al gesien het.

Ek was ’n bietjie bekommerd, want my vriendin, Mandy (skuilnaam, ook 12), het vertel hy het haar eenkeer gesoen. Ek weet dit was verkeerd, maar hy het daarop aangedring dat ek saam met hom ry.

Hy het die teenoorgestelde rigting van my huis begin ry. Ek het vir hom gesê my ma wag vir my, maar hy het geantwoord hy moet vinnig by sy huis ’n draai maak.

Sowat 10 minute nadat ons begin ry het, het ek hom gevra om my uit te laat. 

Hy het my polse gegryp en my oor die bestuurdersitplek getrek en die sitplekgordel vasgemaak sodat ek geen kans het om weg te kom nie. Hy was terselfdertyd grappig en vriendelik.

Ek was paniekbevange, maar het geweet my redding gaan wees om kalm te bly.

Toe ons na die voordeur stap, was daar ’n ouer paar in die sitkamer.

Tim het verbaas gelyk om hulle te sien. Daar was tasse by hulle.

Hulle het Afrikaans gepraat met mekaar, onwetend dat ek ook vlot Afrikaans kan praat. Ek onthou die ouer man het vir Tim gevra waar hy my gaan sit en of enigiemand weet ek is daar. Tim het my na ’n kamer bo in die huis geneem.

Ek was paniekbevange, maar het geweet my redding gaan wees om kalm te bly.

Tim het sowat ’n minuut later teruggekeer om te se die “oom” gaan vir ’n ruk bly so ek moet net in die kamer bly tot ek en hy (Tim) alleen kan wees.

Ek weet nie wat oor my gekom het nie. Ek was so onskuldig en bang, maar ek het vir hom gesê dalk moet ons na die Crown-hotel gaan vir ’n drankie, dan kan ons alleen wees sonder die “oom”.

Die Crown was in die buurt Redhill naby waar ek gewoon het. Dit was die enigste manier hoe ek myself kon tyd gee om te dink en nader aan my huis te kom. Ek het ook geweet die Redhill-polisiekantoor is net oorkant die hotel.

Ek kan eerlikwaar sê God het na my omgesien.

Tim het verras gelyk en ingestem. Hy het my na sy motor geneem, en weer oor die bestuurdersitplek laat klim. Hy het my weer vasgegordel, maar dié keer het ons gery sonder sy arm teen my. Net sy hand wat op my been rus.

Ek het vir hom geglimlag, dit onthou ek duidelik. Ek het saamgespeel en dit het gevoel asof dit werk. Hoe het ek met die plan vorendag gekom? Ek kan eerlikwaar sê God het na my omgesien. Binne het my hart hard geklop. Ek wou net my ma hê.

By die Crown-hotel het ons by ’n buitetafel gaan sit. Tim het gelyk asof hy dadelik wou ingaan. Ek het vir hom gesê ek is op my senuwees en as hy vir ons albei ’n drankie bestel, sal ek rustiger wees.

Omdat ek minderjarig was, wou hulle my nie bedien nie en is hy na binne om by die kroeg te gaan bestel. Hy het klaarblyklik gedink hy het my volle samewerking.

Die oomblik toe hy deur die hotel se deure verdwyn, het ek vinniger as ooit in die rigting van die polisiekantoor gehardloop.

Dit was Gert van Rooyen en ek het besef hy het meisies van my ouderdom seer- en doodgemaak.

Tot my afgryse het ’n stasiewa met my vriendin se pa verskyn. Hy was woedend en het my beveel om in te klim. Ek moes seker aangehou hardloop het tot by die polisiekantoor, maar as ek dit gedoen het, sou hy my gevang het. So toe klim ek in.

Ek het gedink dit is ’n geval van vet op die vuur, maar hy het my reguit huis toe gebring.

’n Paar maande later het ek televisie gekyk. ’n Foto van die ouer man by Tim se huis het op die beeld verskyn. Ek het hoendervleis gekry.

Dit was Gert van Rooyen en ek het besef hy het meisies van my ouderdom seer- en doodgemaak. Alles het weer in my kop afgespeel. Ek was skrikkerig om die huis te verlaat. Ek het myself blameer dat ek nie die polisie vertel het wat gebeur het nie; miskien kon ek van daai meisies gered het, ek weet nie.

Wat ek wel weet, is dat ek minstens moes probeer het. Die nagmerries het my oor die jare bygebly. Net so duidelik soos altyd.

Later is Joey Haarhoff se foto ook deur die polisie uitgereik.

Daar was geen twyfel by my dat dit die vrou in Tim se sitkamer was nie, hoewel haar hare voorheen ’n ander kleur was.

Ek weet ook dat Tim by die werwing van slagoffers betrokke was. Ek was veronderstel om een te wees.

Ek doen dit om jammer te sê aan die slagoffers wat ek kon gered het, en Tim tot geregtigheid te bring, want daar is geen twyfel by my dat hy net so deel van die tragedie was nie.

Volgens die South Coast Herald het hulle die vrou se weergawe aan die polisie deurgegee. Sy het beweer sy het reeds twee jaar gelede vergeefs die polisie met haar inligting gekontak. Die koerant wou nie die vrou se naam aan Huisgenoot.com verskaf om self haar weergawe te toets nie. Onderaan die storie het mense geredekawel of haar weergawe heel moontlik waar kan wees en haar tydlyn bevraagteken.

Elaine Winterburn Mackay skryf: “Ek glo die storie glad nie! Familielede van my het langer as 60 jaar in die Durban-Noord/Redhill-omgewing gewoon en nog nooit van die Crown-hotel of Redhill-polisiekantoor reg oorkant gehoor nie. Die naaste polisiekantoor is in Greenwood Park.”

Dan antwoord Garth Whittaker: “Die Crown-hotel was ’n baie gevestigde plek en is in die 1960’s deur Frank Jason besit. Dit was op die hoek van Orange Grove- en North Coast-weg. Die gebou staan vandag nog.”

Gert en Joey word met die ontvoering tussen 1988 en ’89 van minstens ses tienermeisies in Gauteng en KwaZulu-Natal verbind. Hulle is Odette Boucher (11), Joan Horn (12), Anne-Marie Wapenaar (12), Fiona Harvey (12) en waarskynlik ook Tracy-Lee Scott-Crossley (14) en Yolanda Wessels (13). Yolanda se ma, Babs, en Haarhoff was susters.

Die grupaartjie se skrikbewind het in 1990 tot ’n einde gekom toe een van hul slagoffers, Joan Booysen (16), in Pretoria ontsnap. Gert het toe vir Joey en homself doodgeskiet voor die polisie hulle kon aankeer.

Gert se misdaadverlede strek egter nog verder terug toe hy in die 1960’s weens diefstal tronk toe gestuur is. En in 1979 het hy twee meisies (10 en 13) glo ontvoer en seksueel aangerand.