In die stemopname sê Gerhard, soos hy bekend is, die foto’s en gesels tot dusver op die betrokke Facebookblad wys dat daar nooit ’n selfmoordpakt was van sy pa nie.

“Almal het maar hul bedenkinge daaroor. Sommige spreek dit uit, sommige kyk maar net en lees en maak hul eie afleidings.”

Gerhard sê die idee van die blad was nie om iemand te verontskuldig nie; dit was maar net om die feite voor te lê.

Hy sê hy het reeds in 2004 gepoog om voor die polisie, die DOV en die minister van veiligheid en sekuriteit die saak onbepaald te laat uitstel.

“My versoek was baie eenvoudig: 'Verklaar my pa nou skuldig of onskuldig'. Niemand wou daardie roete volg nie, wat baie vreemd is,” sê hy.

Gerhard sê hy het ook versoek dat die saak nie moet lê nie, dat dit herondersoek moet word.

“Al wanneer daar weer ondersoek ingestel word is wanneer daar iets in die media is. Iemand kry nou weer een of ander gier om te sê hulle het nou weer iets gesien – een of ander sangoma of siener of waarsêer of toordokter beweer hulle het nou weer iemand gesien en dan gaan grou die polisie weer op.

Daar is baie mense wat baie antwoorde moet hê. Almal kan nie niks weet nie

“Deur die jare is derduisende manure en miljoene rande se geld gemors om baie hartseer insidente te ondersoek wat nie net die kinders se families raak nie, maar ook ons familie raak wat vandag nog hier is. Ons kinders en ons kleinkinders.”

Dan sê Gerhard verder. “Jy kan nie die saak herondersoek nie, want die polisie en almal betrokke sien net een ding – Gert van Rooyen. Hulle sien niks anderster nie, hulle sien net Gert van Rooyen. Hulle kan nie verby hom kyk nie.”

Gerhard sê die beste sal wees om buitelandse ondersoekers en finansiering te kry en twee speurders van Suid-Afrika, “wat goed is,” moet aangestel word.

“Daar is baie mense wat baie antwoorde moet hê. Almal kan nie niks weet nie. Dit is tyd dat die saak oopgevlek word en die regte mense verantwoording doen vir wat gebeur het,” sluit hy die stemgreep af.

Luister hier na die stemgreep: