oscar-reeva-collage
“’n Onskuldige vrou is in die afskuwelikste omstandighede doodgeskiet,” het die aanklaer Gerrie Nel gesê.
'Haar dood is veroorsaak deur die nalatigheid van hierdie respondent.'

“Dit is nie ’n geval waar skote afgevuur is en iemand gesterf het nie; haar dood is veroorsaak deur die nalatigheid van hierdie respondent.”

Gerrie het die staat se aansoek om verlof tot appèl teen Oscar Pistorius se vonnis en skuldigbevinding aan strafbare manslag geargumenteer.

Regt. Thokozile Masipa het Oscar op 21 Oktober tot vyf jaar tronkstraf gevonnis.

Die staat het verlede maand aansoek gedoen om ’n swaarder skuldigbevinding en vonnis. Gerrie het gesê die verdediging se besluit om bewyse van die maatskaplike werker en toesigbeampte Annette Vergeer – dat tronke nie Oscar se gebrek kan akkommodeer nie – voor te lê, is ’n teken van ’n gebrek aan berou. “Om sulke bewyse voor te lê, is nie ’n aanduiding van iemand wat berou toon nie,” het hy gesê.

'Die berou was ook nie in die vonnisoplegging teenwoordig nie.'

“Die berou was ook nie in die vonnisoplegging teenwoordig nie.”

Annette het aan die hof gesê daar is in die tronk nie handrelings nie en die vloere is glad.

Gerrie het gesê Oscar het by sy eie huis ook nie handrelings nie.

Oscar is vyf jaar tronkstraf opgelê weens die strafbare manslag Reeva. Hy het haar op Valentynsdag verlede jaar in sy huis in Pretoria doodgeskiet omdat hy haar vir ’n inbreker aangesien het.

Vir die skietvoorval by die restaurant Tasha’s in Melrose Arch in Januarie verlede jaar het Oscar drie jaar tronkstraf gekry, wat vyf jaar opgeskort is.

Gerrie het Dinsdag beweer Oscar was onverantwoordelik toe hy op die toiletdeur afvuur.

“Die respondent (Oscar) het geweet daar is iemand in die toilet. Hy het dit geweet en het vier skote afgevuur,” het Gerrie gesê.

Hy het gesê die atleet, wat opgelei is om vuurwapens te hanteer, het vier skote op die deur afgevuur met die wete dat dit klein is en die persoon binne-in nêrens kon skuil nie.

“Dit moet beslis gestraf word; dit is nie iemand wat nie geweet het waar die persoon is nie.”

Die hof het “te veel” genade getoon, het Gerrie gesê.

- Sapa