Gerrie Nel het, terwyl hy Roger kruisondervra het in Oscar Pistorius se moordverhoor, gesê die gevolgtrekkings wat hy gemaak het oor die kneusplekke aan Reeva se rug, wat veroorsaak is nadat sy agteroor op ’n tydskrifrak geval het, gestrook nie met dit wat in die nadoodse ondersoek bevind is nie. Roger het sy gevolgtrekkings gegrond op die wond in die verslag en foto’s van die nadoodse ondersoek.

'Ek kan net verslag gee van wat ek in die foto’s gesien het.'

“Ek kan net verslag gee van wat ek in die foto’s gesien het,” het Roger gesê.

“Ek het gekyk na (die) beskrywing wat prof. Saayman in (die) verslag van die nadoodse ondersoek gegee het.”

Oscar staan tereg op moord nadat hy Reeva op Valentynsdag verlede jaar deur ’n geslote deur in sy huis geskiet het. Hy beweer hy het haar vir ’n inbreker aangesien wat hulle wou aanval. ’n Ballistiekkenner het vroeër vir die staat getuig  dat Reeva op die tydskrifrak geval het en die kneusplekke aan haar rug deur opslagkoeëls veroorsaak is.

Roger het gesê hy het al drie nadoodse ondersoeke bygewoon, maar Reeva s’n is nie een van hulle nie.

Gerrie het Roger verwys na ’n bladsy in die verslag wat noem dat die patoloog prof. Gert Saayman, wat die ondersoek uitgevoer het, bevind het die kneusplekke is deur koeëlfragmente veroorsaak.

“Jy lyk verbaas. Het jy dit nog nooit gesien nie?” het Gerrie gevra.

“Jy, mnr. Dixon, het pas ’n gevolgtrekking gemaak sonder dat jy die dokument gelees het.”

Eie interpretasie

Volgens Gerrie het Roger dit wat hy in die verslag gesien het, vir sy eie doeleindes geïnterpreteer.

“Die onverantwoordelikste hiervan is dat jy na ’n dokument verwys en nooit die verslag in sy geheel lees nie.”

Roger het geantwoord dat hy wel die hele verslag gelees het, maar dit was lank gelede, en hy het “ ’n hele aantal verslae” gelees.

Gerrie het Roger gevra wat die verdediging hom gevra het om te doen. Roger het geantwoord dat sy rol mettertyd verander het.

“Daar was nie ’n duidelike stelling dat jy slegs dit doen nie,” het hy gesê.

“Ek is onder meer gevra om die volgorde van die gebeure uit te werk en die merke aan die deur te bestudeer.”

Wat die eerste skiettoets betref (Roger het die tweede een misgeloop), het hy gesê hulle het nie dieselfde ammunisie as Oscar gebruik nie. Die Black Talon-koeëls was nie by die betrokke skietbaan beskikbaar nie en soortgelyke ammunisie is gebruik.

“Daar is nie van my verwag om te sorg vir die ammunisie nie,” het Roger gesê.

Hy sê daar is foto’s van die toetse geneem, en Gerrie het gevra hy moet dit na die hof bring.

Gerrie het hom vroeër ook gevra oor sy getuienis dat die koeëls Reeva wat getref het toe sy agter die geslote toiletdeur gestaan het, haar agtertoe laat beweeg het.

“Ons sien dit in flieks, of hoe? Hulle word geskiet en vlieg agtertoe.”

- Sapa

Volgens Gerrie is dit onmoontlik. Roger het geantwoord dat Reeva reeds besig was om te beweeg en die koeël het net daartoe bygedra dat sy agtertoe beweeg het.

Gerrie het gevra hy moet Donderdag leesstof oor dié verskynsel hof toe bring.