Tog lewer Roger Dixon getuienis oor kenners soos die patoloog prof. Gert Saayman, die bloedspatselkenner kol. Ian van der Nest en kapt. Chris Mangena se bevindinge.

Roger, wat ’n geoloog by die Universiteit van Pretoria is, was voorheen betrokke by die polisie se forensiese laboratorium.

Hy het nie een verslag geskryf nie, maar het by tye verslaggies oor verskillende aspekte aan die verdediging ge-e-pos.

Tydens sy ondersoek het hy ander bevindinge as die kenners gemaak, onder meer oor die posisie waarin Reeva Steenkamp gestaan het toe sy agter die deur geskiet is, watter skote Reeva waar getref het en dat die oorsaak van die wonde op Reeva se rug weens ’n val op die tydskrifrak is en nie ’n opslagkoeël soos Chris bevind het nie.

Adv. Gerrie Nel het Roger telkens tydens sy kruisondervraging gevra oor sy kwalifikasies en of hy ’n spesialis in ’n sekere gebied is.

Hy het elke keer nee gesê, maar dat hy tot gevolgtrekkings kon kom op grond van foto's wat hy gesien het, verslae wat hy gelees het en ondersoeke wat hy gedoen het.

Gerrie sal ná middagete met sy kruisondervraging voortgaan.

- Hilda Fourie