“Wat was jou opdrag?” het die aanklaer, Gerrie Nel, die dosent in sport- en oefeningsgeneeskunde aan die Universiteit van Kaapstad Wayne Derman gevra.

“Om my ervaring van Oscar Pistorius te deel, om my waarnemings oor hom te deel en enigiets te noem wat dalk relevant is,” het hy aan die hof gesê.

“Is dit nie eerder ’n karaktergetuie as ’n deskundige getuie se werk nie?” het Gerrie gevra.

Volgens Gerrie is Wayne se getuienis nie dié van ’n deskundige getuie nie, soos hy homself beskryf het.

Gerrie het gesê die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika se regulasies vereis dat Wayne in sy pasiënt se beste belang optree.

“Is dit wat jy nou doen?” het Gerrie gevra.

“Ek glo so,” het Wayne geantwoord.

Gerrie het gesê as Wayne objektief was, sou sy getuienis sy pasiënt benadeel.

“Ek stem nie saam nie. Ek gaan nie met ’n bevooroordeelde verslag voor die hof verskyn nie, want ek het dit baie versigtig opgestel.”

Toe hy gevra is of hy teen Oscar sou getuig, het hy gesê: “Ek is onder eed; ek moet die waarheid vertel en dit is wat ek gaan doen.”

Oscar staan tereg weens moord nadat hy sy meisie, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag verlede jaar deur ’n geslote deur in sy huis in Pretoria geskiet het.

Hy beweer hy het haar vir ’n inbreker aangesien wat hom wou aanval. Sy is in die heup, arm en kop getref.

Nadat hy die skote afgevuur het, het hy ’n krieketkolf gebruik om die deur oop te breek om by die noodlottig gewonde Reeva uit te kom.

Hy het onskuldig op die moordaanklag gepleit, asook aanklagte wat met vuurwapens verband hou.

Die staat voer aan hy het haar tydens ’n rusie geskiet.