“Het jy ’n fout gemaak?” het Gerrie skerp gevra.

“Jy het iemand doodgemaak; jy het Reeva Steenkamp doodgeskiet. Hoekom aanvaar jy nie verantwoordelikheid daarvoor nie?”

Gerrie het ook die volgende gesê: “Mnr. Pistorius, jy was en is nou nog een van die bekendste mense ter wêreld. Jy is ’n rolmodel vir alle atlete wêreldwyd.”

Oscar het sag geantwoord dat dit die geval was voor hy “’n fout” gemaak het.

“Kom ons kyk na die waarheid,” het Gerrie voortgegaan.

Gerrie het skaars aan die gang gekom en was op die punt om Oscar ’n video te wys, toe stop Barry Roux hom.

Dit is ’n video van SkyNews wat op die internet versprei is waar Oscar saam met vriende by ’n skietbaan is en die term “zombie stopper” gebruik het. Hy het getuig hy kan nie onthou dat hy al ooit die term gebruik het nie. Oscar het vir Gerrie gesê hy sal graag die video wil sien.

Barry het aan regt. Thokozile Masipa gesê dat Gerrie nie sy getuie mag bombardeer en nuwe bewyse gebruik wat nie deel van die staat se saak is nie.

Gerrie het gesê buiten dat Oscar die video wil sien, gaan hy vrae oor die video vra en sien daarom nie waarom die video nie gewys mag word nie.

Regt. Masipa het vir teepouse afgestaan en sal na verwagting ná die pouse haar besluit bekendmaak oor of die video gewys mag word of nie.

- Hilda Fourie; Sapa

Kyk die Sky News-video hier: