Oscar sê hy het die deur met sy skouer gestamp en het dit probeer oopskop.

“Jy het dit alles gedoen, al het jy geweet dit maak buitentoe oop?” het die staatsaanklaer Gerrie Nel gevra.

“Ja, U Edelagbare,” het Oscar aan regter Thokozile Masipa geantwoord.

Oscar het verduidelik hy het dit gedoen omdat hy die deur met mag en mening wou oopkry.

Hy voer aan hy het Reeva vir ’n inbreker aangesien, en dat haar skietdood op Valentynsdag 2013 ’n ongeluk was.

Oscar het getuig dat hy nog die gelaaide pistool in sy hand gehad het terwyl hy die deur probeer oopkry het. Hy kon nie verklaar waarom hy dit nie neergesit het nie. Gerrie het Oscar ook uitgevra oor waarom Reeva se jeans daardie oggend met die binnekant buitentoe in Oscar se slaapkamer gekry is.

'Hoekom het sy haar jeans so gelos?'

“Hoekom het sy haar jeans so gelos?” het Gerrie Oscar gevra.

“Het sy dit nie vinnig uitgetrek en nie tyd gehad (om dit weer reg om te maak nie)?” het Gerrie gevra.

Oscar het geantwoord dat hy nie weet waarom Reeva haar jeans so gelos het nie.

Die hof het Maandag gehoor dat Reeva ’n baie netjiese mens was.

Al die klere wat sy na Oscar se huis gebring het, is netjies in haar oornagtas gepak, behalwe vir die jeans en ’n paar plakkies wat langs Oscar se bed gekry is.

Sy het die oggend van haar dood ’n kortbroek en ’n toppie aangehad.

Oscar se gille

Oscar het ook getuig dat hy gegil het terwyl hy die toiletdeur probeer afbreek het om by Reeva uit te kom. “Het jy gegil toe jy haar sien?” het Gerrie gevra. “Nee, U Edelagbare,” het Oscar geantwoord.

'Toe jy haar in die toilet sien lê, het jy nie gegil nie?'

“Toe jy haar in die toilet sien lê, het jy nie gegil nie?” het Gerrie gevra, en het bygevoeg dat dit iets ongeloofliks moes wees om te aanskou.

“Jy het voor dit gillend rondgehardloop, maar jy het nie gegil toe jy haar sien nie?” het Gerrie voortgegaan.

“Ek het die nie doel daarvan gesien nie,” het Oscar geantwoord.

Volgens Gerrie het Oscar dit geantwoord omdat hy glo dit strook met wat verskeie getuies getuig het.

Minstens twee van die getuies het vroeër in die hof gesê hulle het voor die skote gille gehoor, maar daar was geen gille ná die skote nie.

“Nee, U Edelagbare,” het Oscar geantwoord, sy oë op regt. Thokozile Masipa gerig.

Staat se kruisondervraging afgehandel

Gerrie het ook sy kruisondervraging van Oscar Pistorius, wat verlede Dinsdag begin het, afgesluit.

Gerrie het in sy laaste sin aan die atleet gesê hy het niks verder vir hom te vra nie.

Hy het in sy slotsom gesê die hof gáán sekere bevindings maak.

Dit is die volgende:

  • Dat Reeva Steenkamp binne twee uur voor haar dood geëet het;
  • Dat die staatsgetuie Estelle van der Merwe vir Steenkamp gehoor praat het terwyl sy geëet het, omdat daar toe 'n stryery tussen Steenkamp en Pistorius was;
  • Dat die staatsgetuies Charl Johnson, Michelle Burger en die Stipp-egpaar vir Steenkamp gehoor skree het;
  • Dat Pistorius geweet het Steenkamp staan agter die toiletdeur en dat hy geweet het sy het met hom gepraat;
  • Dat sy haar in die toilethok toegesluit het en Pistorius homself bewapen het om haar dood te skiet; en
  • Dat Pistorius ná die skote oorkom is deur wat hy gedoen het, want hy wou haar doodmaak. Hy het tóé besef wat hy gedoen het, het Nel gesê.

Pistorius het al die stellings in die getuiebank ontken.

Sy advokaat, Barry Roux, gaan hom herondervra.?

Bronne: Sapa, Twitter, Beeld.com